Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 13 Februarie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Amerikaanse regering oorweeg vlugtelingstatus vir Afrikaners
# Sanral gaan toltariewe volgende maand verhoog
# En rugby: Die Blitsbokke maak belangrike veranderings aan die groep voor die Vancouver Sewes
# Die Amerikaanse Departement van Buitelandse Sake en Binnelandse Veiligheid gee voorrang aan humanitêre hulp en hervestiging vir Afrikaners van Suid-Afrika wat beweer hulle is slagoffers van rassediskriminasie. Dit volg op ‘n uitvoerende bevel deur president Donald Trump, wat ook befondsing aan Suid-Afrika ingekort het oor beweerde menseregteskendings en die omstrede Onteieningswet. News24 berig Amerika oorweeg vlugtelingstatus vir Afrikaners, ‘n stap wat volgens Trump nodig is weens rassediskriminasie en geweld teen etniese minderhede.
Die vakbond-federasie Saftu sê intussen hy veroordeel ten sterkste die vakbond Solidariteit se roekelose oproep op Trump om druk op die Suid-Afrikaanse regering te verskerp oor wat hy rassewette noem. Dit volg ná Solidariteit se aanval op beleide soos swart ekonomiese bemagtiging en regstellende optrede. Saftu se woordvoerder, Newton Masuku, sê Solidariteit se optrede weerspieël AfriForum se onlangse misleidende veldtog teen die Onteieningswet, waarin beweer is die wet bedreig eiendomsreg en teiken wit boere:
# Die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap het aangekondig dat ‘n toltarief-verhoging van 4,84-persent die eerste van volgende maand in werking tree. Woordvoerder Vusi Mona beklemtoon dat tolgelde noodsaaklik is vir die instandhouding en verbetering van tolpaaie en die verwante afbetaling van skuld. Hy sê terwyl SANRAL erken dat Suid-Afrikaners onder ekonomiese druk verkeer, beklemtoon hulle dat die handhawing van hoë gehalte padinfrastruktuur noodsaaklik is om aan die behoeftes van nywerheid, handelsinstellings en die publiek te voldoen.
# Rand Water in Gauteng waarsku oor reservoirs wat vinnig leegloop weens uiters hoë waterverbruik. Die daling word vererger deur hoë temperature, kragonderbrekings en instandhoudingswerk. Bergingsvlakke het sedert 19 Januarie van byna 70-persent tot onder 40-persent gedaal. Rand Water versoek verbruikers om minder water te gebruik om te voorkom die stelsel stort ineen, aangesien hoë vraag in een gebied die aanbod aan ander beïnvloed.
# Rugby: Die Blitsbokke het belangrike veranderings aan die groep aangebring voor volgende naweek se sewestoernooi in Vancouver. Sebastiaan Jobb is terug in die span na amper twee jaar en vervang die beseerde Zain Davids, terwyl Tristan Leyds herstel het van sy besering en by Dewald Human oorneem. Die span speel sy groepswedstryde teen Nieu-Seeland, Ierland en Australië. Afrigter Philip Snyman sê die veranderings pas by die vinnige sintetiese oppervlak in Kanada, met Jobb se spoed wat moontlik ‘n belangrike faktor gaan wees:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-48-sent teen die dollar, 19-rand-26-sent teen die euro en 23-rand-9-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 96-duisend-205-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-917-dollar-26-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 74-dollar-12-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….