Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 7 Februarie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Diefstal-aanklagte word laat vaar teen SAFA se president, Danny Jordaan
# Rugby: Fiji se direkteur word binne vier dae afgedank oor opmerkings oor ‘n ‘gay-probleem’ in die vrouespan
# En, Springbok is die duurste dorp vir kos in Suid-Afrika
# # Die staat het diefstal-aanklagte ter waarde van meer as 800-duisend-rand laat vaar teen die president van die Suid-Afrikaanse Sokkervereniging, Danny Jordaan, en die finansiële hoof, Gronie Hluyo. Hulle en die sakeman Trevor Neethling het hul vierde verskyning in die Handelshof in Palm Ridge, Gauteng, gemaak. Albei word egter steeds beskuldig van bedrog en sameswering. Jordaan wil probeer om die saak uitgegooi te kry. Phindi Mjonondwane van die Nasionale Vervolgingsgesag sê die saak is tot 15 Augustus uitgestel:
# Die saak oor die moord op Kiernan “AKA” Forbes en sy vriend Tebello “Tibz” Motsoane word in Mei in die Hooggeregshof in Durban hervat. Vyf mans word aangekla, insluitend Mzwithemba Gwabeni en Lindokuhle Ndimande, wat borgtog geweier is nadat hulle nie nuwe bewyse kon voorlê nie. Natasha Ramkisson-Kara van die Nasionale Vervolgingsgesag sê hulle is gereed om voort te gaan met of sonder die twee bykomende verdagtes wat in Eswatini in hegtenis geneem is:
# Die oorskot van 14 Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag-soldate wat gesterf het in gevegte met M23-rebelle in die Demokratiese Republiek die Kongo, word vandag gerepatrieer. Dit volg ná verskeie vertragings te midde van hangende administratiewe prosesse met die Verenigde Nasies. SABC News het bevestig Suid-Afrika het die nodige administratiewe vereistes nagekom en die repatriasie is tans aan die gang. Hulle sal deur Rwanda en Uganda beweeg en daarna na Suid-Afrika vlieg. Die VN berig altesaam twee-duisend liggame was in Goma en 900 in hospitale.
# Rugby: Fiji het ‘n nuwe direkteur nodig nadat Laijipa Naulivou binne vier dae afgedank is. Dit volg nadat sy gesê het die nasionale vrouespan het ‘n gay-probleem. Die opmerking tydens ‘n onderhoud het grootskaalse kritiek ontlok as skadelik en diskriminerend. Die gewese kaptein het ook onthul sy het vroeër aanbeveel die span moet gekies word deur ‘n paneel eerder as ‘n gay vrou wat haar eie mense insluit. Naulivou beweer homoseksualiteit was ‘n groot nadeel toe die Fijiana in ‘n vorige wêreldsewes-toernooi gespeel het.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-42-sent teen die dollar, 19-rand-12-sent teen die euro en 22-rand-94-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 97-duisend-701-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-866-dollar-94-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 74-dollar-70-sent per vat.
# En ten slotte: ‘n Opname deur die Pietermaritzburg Economic Justice and Dignity Group het aangedui Springbok in die Noord-Kaap is 2025 se duurste dorp of stad ten opsigte van kospryse. Springbok lei met ‘n kosmandjie van vyf-duisend-773-rand. Johannesburg is tweede op vyf-duisend-507-rand, met Durban op vyf-duisend-451-rand en Kaapstad met vyf-duisend-368-rand. Die ondersoek het die pryse van 44 noodsaaklike items ontleed en beduidende streeksverskille in voedselbekostigbaarheid regoor die land uitgelig.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….