Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 4 Februarie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Departement van Minerale Hulpbronne en Petroleum bevestig hoër brandstofpryse vanaf middernag
# AfriForum versoek duidelikheid nadat die Valke bevestig die ondersoek oor VBS Bank is voltooi
# En, krieket: Die vierde seisoen van die SA20 begin net na Kersfees vanjaar
# Die Departement van Minerale Bronne en Petroleum het aansienlike stygings in brandstofpryse vanaf middernag bevestig. Woordvoerder Robert Maake sê albei grade petrol sal met 52 sent-per-liter styg, terwyl diesel met tussen een-rand-een-sent en een-rand-vyf-sent-per-liter styg. Hy bevestig lampolie se prys sal met een-rand-25-sent per liter styg en die prys van vloeibare gas styg met 42-sent-per-kilogram:
# AfriForum versoek deursigtigheid en duidelikheid nadat die Valke bevestig het die ondersoek na VBS Bank is voltooi en vervolgings sal binnekort volg. Barry Bateman van AfriForum sê sy Privaat-vervolgingseenheid vra of dit aanklagte van rampokkery, geldwassery en korrupsie insluit, soos AfriForum se uitvoerende hoof, Kallie Kriel, beweer. Die organisasie dring aan Kriel se standpunt dek breër misdadige aantygings wat verder as VBS strek. AfriForum voer aan Kriel se beëdigde verklaring moet amptelik in die saakdossier gevoeg word.
# Die Vereniging van Staatsamptenare versoek die Suid-Afrikaanse Reserwebank om verdere verlagings in die terugkoopkoers te oorweeg om vraag en ekonomiese bedrywighede te stimuleer. Die Reserwebank het rentekoerse verlede week met 25 basispunte verlaag. Woordvoerder Claude Naiker sê die vereniging versoek die regering om beleide in te stel wat regstreeks sal aandag gee aan die krisis met werkers se lewenskoste:
# Krieket: Die vierde seisoen van die SA20 begin reeds in laat Desember vanjaar. Die datum is vervoeg omdat die Proteas dan nie enige internasionale verpligtinge het nie. Seisoen vyf begin soos gewoonlik in Januarie 2027 met ‘n langer ruskans tussen wedstryde en minder wedstryde gedurende die week. Dit sal ʼn propvol jaar vir die plaaslike spel inlui, met die Wêreldbekertoernooi vir mans wat in Suid-Afrika, Zimbabwe en Namibië plaasvind.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-74-sent teen die dollar, 19-rand-35-sent teen die euro en 23-rand-27-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 99-duisend-358-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-813-dollar-60-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 74-dollar-94-sent per vat.
# Ten slotte: Steyn City het die dood van sy visioenêre stigter, die miljardêr-sakeman Douw Steyn, op die ouderdom van 72 aangekondig. Hy word onthou as ‘n uitsonderlike entrepreneur wat ‘n wêreldwye sakeryk opgebou en diep verbind gebly het tot Suid-Afrika. Dit sluit maatskappye soos Auto and General in. Toe oudpresident Nelson Mandela uit die tronk vrygelaat is, het hy in Steyn se huis in Johannesburg tuisgegaan. Die huis het later die Saxon-hotel geword. Sy familie versoek privaatheid. Skenkings in sy nagedagtenis kan aan die voedselsekerheidsprogram by Diepsloot gemaak word.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….