Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 30 Januarie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Zuma se dogter word op waarskuwing vrygelaat na haar hof-verskyning
# Die man wat die Koran in Swede verbrand word voor ‘n hofuitspraak vermoor
# En, tennis: Die Amerikaanse Ope gaan nou oor 15-dae strek
# Die dogter van oudpresident Jacob Zuma wat daarvan beskuldig word dat sy die onrus van Julie 2021 aangehits het, is deur die Durbanse Landdroshof in KwaZulu-Natal op waarskuwing vrygelaat. Duduzile Zuma-Sambudla staan tereg op aanklagte in verband met die aanhitsing van terrorisme en openbare geweld tydens die onrus, wat tot die dood van meer as 300 mense gelei het. Landdros Irfaan Khalil het die saak na die Hooggeregshof in Durban oorgeplaas en haar volgende verskyning is op 20 Maart:
# Opposisiepartye in Kaapstad verwerp burgemeester Geordin Hill-Lewis se verduideliking dat daar onvoldoende bewyse is wat dit regverdig om JP Smith en Xanthea Limberg uit sy burgemeesterskomitee te verwyder. Hulle sê daar is objektiewe bewyse die twee word ondersoek. ‘n Woordvoerder van die GOOD-party, Brett Herron, sê indien die skoen aan die ander voet was, selfs sonder ‘n sweempie van korrupsie en met geen klopjag of amptelike aanklag nie, was die DA voor in die koor om vir ʼn verwydering te vra:
# Werksaamhede by die Groblersbrug-grenspos met Botswana in Limpopo hervat vandag. Bedrywighede moes tydelik gestaak word nadat swaar reën aansienlike skade aan infrastruktuur veroorsaak het. Die Grensbestuursowerheid se woordvoerder, Mmemme Mogotsi, sê noodsaaklike herstelwerk is afgehandel en die grenspos het sy werksaamhede hervat om oorgrensbeweging en handel tussen Suid-Afrika en Botswana te hanteer:
# ‘n Man wat in 2023 in Swede herhaaldelik die Koran verbrand en woede in Moslemlande ontketen het, is doodgeskiet. Die polisie het Salwan Momika se dood bevestig. ‘n Hof in Stockholm sou vandag beslis of die Christen-Irakees wat die Koran tydens ‘n rits betogings verbrand het, skuldig is aan die aanhitsing van etniese haat. Die uitspraak is tot volgende week uitgestel want meer tyd word benodig nadat Momika gesterf het.
# Tennis: Die Amerikaanse Ope brei sy hooftoernooi uit na 15-dae en begin vanjaar op ‘n Sondag vir die eerste keer in die Ope-era. Die Amerikaanse Tennisvereniging sê dit volg nadat die toernooi verlede jaar die derde agtereenvolgende jaar ‘n rekordbywoning gehad het. Hy sê die begin op ‘n Sondag sal ‘n bykomende 70-duisend toeskouers toegang gee. Wimbledon is nou die enigste oorblywende Grand Slam-toernooi met ‘n tradisionele begin op ‘n Maandag nadat die Australiese Ope verlede jaar verander het en die Franse Ope in 2006.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-51-sent teen die dollar, 19-rand-24-sent teen die euro en 23-rand-1-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 105-duisend-191-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-778-dollar-85-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 75-dollar-63-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….