Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 29 Januarie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa betreur die dood van 13 Suid-Afrikaanse soldate in die DRK
# Die DA waarsku dit kan 25-jaar neem om die agterstand met titelaktes in Gauteng uit die weg te ruim
# En, sokker: Paul Scholes sê Marcus Rashford behoort verban te word uit Manchester United se kleedkamer
# President Cyril Ramaphosa het sy diepe meegevoel betuig na die dood van 13 Suid-Afrikaanse Weermaglede in die Demokratiese Republiek die Kongo. Hulle was deel van ‘n vredesmag. Ramaphosa loof die soldate se opoffering, en beklemtoon Suid-Afrika se militêre teenwoordigheid is nie ‘n oorlogsverklaring teen enige land nie, maar deel van vredespogings. Hy vra ‘n onmiddellike einde aan vyandighede en alle partye om aan vredesonderhandelings deel te neem om bestendigheid in die streek te verseker.
# Die landbou-organisasie TLU SA vra Ramaphosa intussen om praktiese oplossings voorop te stel wanneer hy volgende Donderdag sy staatsrede lewer in Kaapstad. Bennie van Zyl van TLU SA sê Ramaphosa moet die moed hê om as ‘n ware staatsman op te tree en daadwerklik aandag gee aan die kwessies wat die land lamlê. Hy sê Suid-Afrika benodig dringende ingryping, nie vir politiek nie, maar vir vooruitgang:
# Die Buro vir Voedsel- en Lanboubeleid verwag dat Suid-Afrika se landbousektor in 2025 met drie-persent sal groei. Uitvoerende direkteur Tracy Davids het op Nedbank Landbou se rondetafelgesprek verwys na die verbeterde reënval, die bestendige elektrisiteits-voorsiening en verhoogde aanplantings as belangrike faktore. Kenners het egter verskillende uitdagings uitgewys, soos uiterste weersomstandghede, infrastruktuurprobleme, handelsbesperkings en veranderlike internasionale markomstandighede. Kenners sê ondanks die risiko’s bly die sektor ‘n belangrike ekonomiese faktor met uitvoere wat verwag word om 262-miljard-rand verby te steek.
# Die DA sê dit kan 25-jaar neem om die bestaande agterstand met titelaktes in Gauteng uit die weg te ruim. Dit raak duisende inwoners. Die party beweer die provinsiale Departement van Menslike Nedersettings het die afgelope vyf-jaar slegs 32-duisend titelaktes uitgereik, ondanks die agterstand van 178-duisend. Woordvoerder Mervyn Cirota sê titelaktes is deurslaggewend om sekerheid van huiseienaarskap te bekom, en beloof om dringend op te tree:
# Sokker: Manchester United se gewese middelveldspeler, Paul Scholes, sê Marcus Rashford het sy spanmaats in die steek gelaat en behoort uit die kleedkamer verban te word. Die Engelse voorspeler het op 12 Desember laas vir United gespeel, en hoofafrigter Ruben Amorim het hom sedertdien telkens uit sy span gelaat, behalwe vir een wedstryd wat hy op die bank was, maar nie gebruik is nie. Amorim het Sondag gesê hy sal eerder die 63-jarige doelwagter-afrigter Jorge Vital kies as die 27-jarige Rashford, wat hy sê nie hard genoeg probeer nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-66-sent teen die dollar, 19-rand-42-sent teen die euro en 23-rand-18-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 102-duisend-470-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-758-dollar-19-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 75-dollar-75-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….