Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 21 Januarie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa sluit aan by wêreldleiers in Davos vir samewerkende oplossings
# Stad Kaapstad wil bende-gebiede sluit
# En rugby: Neethling Fouché verleng sy Stormers-kontrak tot 2028
# President Cyril Ramaphosa het in Davos, Switserland, aangekom vir die 55ste Wêreld-ekonomiese Forum. Hy word vergesel deur sy afvaardiging, insluitend DA-leier en minister van Landbou, John Steenhuisen, en begin sy program vanmiddag met ‘n bilaterale vergadering met die stigter en voorsitter van die forum se raad van trustees, Klaus Schwab. Die vergadering is aan die begin van ‘n week van afsprake waar Ramaphosa globale uitdagings sal bespreek en Suid-Afrika se ekonomiese voorkeure en G20-presidentskap sal bevorder. Hy sal ook aan verskeie vergaderings met internasionale leiers en organisasies deelneem.
# Die DA sê Suid-Afrikaners verdien ‘n kabinet sonder korrupsie. Die party vra Ramaphosa om die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, af te dank weens haar beweerde betrokkenheid by ‘n tenderskandaal van 2,5-miljoen-rand terwyl sy die munisipale bestuurder in Ba-Phalaborwa in Limpopo was. DA-woordvoerder, Dianne Kohler Barnard, sê daadwerklike optrede is nodig om openbare vertroue in die regering te herstel:
# Kaapstad se burgemeesterskomiteelid vir Veiligheid en Sekerheid, JP Smith, vra die polisie om bendegebiede op die Kaapse Vlakte af te sluit. Wetstoepassingsagentskappe het die afgelope week op minstens tien vuurwapens beslag gelê en die afgelope naweek het vyf voorvalle binne 24-uur plaasgevind. Smith sê hy hoop die afsluitings sal ʼn betekenisvolle verskil maak aan wapen- en dwelmhandel in die betrokke gemeenskappe:
# Rugby: Die vaskopstut Neethling Fouché het sy kontrak met die Stormers met drie jaar verleng. Die 32-jarige vertoon al verskeie jare bestendig en is deel van die leierskorps. Fouché het ondanks aansienlike belangstelling van verskeie oorsese klubs besluit om hom vir die toekoms aan die Stormers te verbind wat hy glo hom die beste geleentheid bied om sy land te verteenwoordig. Die span se direkteur van rugby, John Dobson, verwag Fouché sal die volgende drie jaar meer invloedryk by die Stormers word.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-64-sent teen die dollar, 19-rand-29-sent teen die euro en 22-rand-81-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 103-duisend-530-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-717-dollar-62-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 78-dollar-11-sent per vat.
# En ten slotte: Wetenskaplikes het onlangs ontdek metaalklonte op die donker seebodem maak suurstof en het planne bekendgemaak om die diepste dele van die aarde se oseane te bestudeer om die vreemde verskynsel te begryp. Die aanvanklike ontdekking het marienewetenskaplikes onkant betrap. Daar is tot dusver aanvaar suurstof word slegs in sonlig deur plante vervaardig, in ‘n proses bekend as fotosintese. Indien suurstof egter in die donker deur metaalklonte vervaardig word, glo die navorsers die proses kan op ander planete ook plaasvind, wat suurstofryke omgewings skep waar lewe kan floreer.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….