Nuus 15:00
BULLETIN 20 Augustus 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die regterlike kommissie oor Mkhwanazi se bewerings begin op 1 September met verhore in Pretoria
# Inflasie styg tot ‘n 10-maande hoogtepunt van 3,5-persent in Julie
# En die Landbank brei klimaatversekering vir boere uit
# Die Madlanga-regterlike kommissie van ondersoek na misdadigheid, politieke inmenging en korrupsie in die strafregstelsel sal op 1 September met sy verhore begin. Die voorsitter, regter Mbuyiseli Madlanga, sê die eerste sitting sal na verwagting oop wees vir die publiek en sal in die Bridgette Mabandla-kollege in Pretoria se middestad plaasvind, waar die kommissie se kantore ook geleë sal wees. Woordvoerder Jeremy Michaels sê openbare voorleggings is nog nie oopgestel nie.
# Die Nasionale Vervolgingsgesag verwelkom die besluit van die Landdroshof in Alexandra, Gauteng, om borgtog te weier aan die sakeman Katiso ‘KT’ Molefe. Hy word daarvan beskuldig dat hy die baasbrein was agter die sluipmoord op Oupa ‘DJ Sumbody’ Sefoka in 2022. Die NVG se woordvoerder, Phindi Mjonondwane, sê Molefe is ‘n gevaar vir die samelewing en kan met ondersoeke inmeng. Sy het bevestig aanklaers sentraliseer verskeie verwante dossiere om die saak te versterk, wat tot 18 September uitgestel is:
# Statistieke Suid-Afrika sê inflasie het in Julie tot ‘n tien-maande hoogtepunt van 3,5-persent gestyg, nadat dit in Junie drie-persent was. Huishoudelike voedselbegrotings bly onder druk, met voedsel en nie-alkoholiese drankies wat tot 5,7-persent verhoog het. Beesvleispryse het die afgelope jaar met bykans 29-persent gestyg, terwyl groente 14,6-persent duurder is. Ricado Johnson van Statistieke Suid-Afrika sê daar was wel geringe verligting met koffie, eiers, en sekere melkprodukte wat goedkoper geword het:
# Gholf: Die wêreld nommer-twee, Rory McIlroy erken hy het nie probleme met die afslaanformaat wat by die FedEx-beker in die PGA-toerkampioenskap gebruik is nie. Dit word vanjaar verander sodat die voorloper op punte, in dié geval die wêreld-nommer-een, Scottie Scheffler, op baansyfer saam met die res van die deelnemers sal begin. Die vorige stelsel het aan die punte-voorloper ‘n voorsprong van twee houe gegee. McIlroy sê die nuwe formaat is ‘n skoon begin vir almal:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-70-sent teen die dollar, 20-rand-61-sent teen die euro en 23-rand-87-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 113-duisend-487-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-329-dollar-21-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 66-dollar-10-sent per vat.
# En ten slotte: Die Landbank-versekeringsmaatskappy het die uitbreiding van sy produk aangekondig met die bekendstelling van omgewingsopbrengs-versekering. Die produk beskerm gewasboere teen verliese veroorsaak deur droogte, oorstromings en plae. Anders as tradisionele versekering sal uitbetalings berus op inligting op distriksvlak eerder as waardering van plase en dit sal vinniger vergoeding verseker. Die versekering word ontwikkel in samewerking met die Internasionale Finansieringskorporasie en CelsiusPro en sal aanvanklik kleiner mielie- en sojaboonboere in vyf provinsies dek.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….