Nuus 15:00
BULLETIN 11 Julie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa sê die nasionale dialoog moet die stemme van alle Suid-Afrikaners weerspieël
# Die DA dien ‘n PAIA-aansoek in oor die ANC se rol in Nkabane se ontplooiing van lede op SETA-rade
# En krieket: Mulder sê Lara meen hy moes sy rekord probeer oortref het
# President Cyril Ramaphosa sê die komende nasionale dialoog moet die stemme van alle Suid-Afrikaners weerspieël. Hy het by die Uniegebou in Pretoria gepraat tydens die vergadering met vooraanstaande persone wat die dialoog moet lei, en sê dit moet inklusief, onpartydig en burgergedrewe wees. Ramaphosa sê dit bied ‘n platform om kritieke nasionale uitdagings aan te pak, insluitend armoede, ongelykheid, werkloosheid, korrupsie en die dalende openbare vertroue in instellings:
# Die Randburgse Landdroshof in Gauteng het borgtog van tien-duisend-rand elk toegestaan aan twaalf lede van die Weermag se Spesiale Magte wat teregstaan vir die moord op ‘n ondersoeker van die Valke, Frans Mathipa. Die hoof-ondersoeker in misdade teen die staat is in Augustus 2023 op die N1 naby die Hammanskraal-tolplaza vermoor terwyl hy ‘n ontvoering ondersoek het. Die saak is tot Donderdag uitgestel terwyl die ondersoek voortduur. Phindi Mjonondwane van die Nasionale Vervolgingsgesag sê die borgtog-beslissing is teleurstellend:
# Die DA het ‘n aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting ingedien wat eis dat die ANC sy kennis rakende die minister van Hoër Onderwys, Nobuhle Nkabane, se kaderontplooiing na SETA-rade openbaar maak. Die DA beweer sy het ANC-kaders in voorkeur-poste aangestel en daarna vir die Parlement gelieg. Die DA se nasionale woordvoerder, Karabo Khakhau, sê die stap is daarop gemik om die ANC se betrokkenheid by Nkabane se beweerde bedrog en magsmisbruik te ontbloot:
# Krieket: Die veelsydige Protea-speler Wiaan Mulder sê die voormalige Windie-ster-speler Brian Lara voel hy moes probeer het om sy toetsrekord van 400 lopies te verbeter. Mulder was kaptein van Suid-Afrika in die tweede toets teen Zimbabwe en onoorwonne op 367 toe hy die eerste beurt gesluit het, wat tot ‘n oorweldigende oorwinning gelei het. Mulder wou nie die rekord probeer oortref wat Lara opgestel het teen ‘n baie sterker span, Engeland, nie, maar Lara sê rekords is daar om verbeter te word en Mulder moet sy eie nalatenskap skep.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-85-sent teen die dollar, 20-rand-87-sent teen die euro en 24-rand-15-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 117-duisend-707-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-343-dollar-80-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 68-dollar-58-sent per vat.
# En laastens, Hold My Hand nooi kinders en tieners landwyd uit om vir ‘n nuwe kompetisie, Hear Me Out, in te skryf. Kinders jonger as 18 word aangemoedig om na te dink oor wat hulle help om veilig genoeg te voel om te praat, wat hulle wens hulle ouers, onderwysers en versorgers het regtig van hulle wêreld geweet, en hoe grootmense hulle in moeilike tye kan help. Voorleggings kan in enige formaat gedoen word: ʼn tekening, kletsrym, stemboodskap, kort video, brief of gedig. Die sluitingsdatum is 8 Augustus.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….