Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 16 Januarie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# AfriForum en Solidariteit begin met ‘n regsgeding teen die Bela-wet
# Vrywilligers in Stilfontein gaan berading ontvang ná die reddingspogings
# En, tennis: Tiener-ster uitgeboender by die Australiese Ope in vyfstel-riller
# AfriForum, Solidariteit en die Solidariteit Skole-ondersteuningsentrum het met regstappe begin teen die instel van die Bela-wet. Kallie Kriel van AfriForum sê president Cyril Ramaphosa het irrasioneel opgetree toe hy die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube, se aanbeveling ignoreer het om die wet se taal- en toelatingsbeleide uit te stel. Hy sê die regsbriewe eis ‘n resolusie binne tien dae, of die saak sal in die hof voortgaan:
# Twee vrywilligers wat gister deelgeneem het aan die Stilfontein-reddingsending, sal berading ontvang. Die polisiewoordvoerder, Athlenda Mathe sê die vrywilligers het bevestig alle onwettige mynwerkers is na die oppervlak gebring en daar is geen oorblywende liggame nie. Sewe Zimbabwiese mynwerkers het intussen uit die Margaret-skag na die oppervlak gekom. Hierdie voorval toon die voortdurende uitdagings wat onwettige mynbou inhou. Mathe het regeringsplanne bevestig om verlate skagte te seël en te rehabiliteer om toekomstige voorvalle te voorkom:
# KwaZulu-Natalse LUR vir Vervoer en Menslike Nedersettings, Siboniso Duma. sê langdurige reën beïnvloed die bouwerk van nuwe projekte en vererger die toestand van paaie. Die LUR se woordvoerder, Ndabezinhle Sibiya, sê die departement het oproepe, foto’s en video’s ontvang van gemeenskappe wat afgesluit is en sukkel om toegang tot skole, hospitale en maatskaplik-ekonomiese sentrums te kry. Hy sê die LUR inspekteer vandag skade in eThekwini en sal volgende week Vryheid besoek:
# Die hoof van menseregte by die Verenigde Nasies, Volker Turk tydens die heel eerste besoek aan die land deur iemand in sy pos, gesê oorgangsgeregtigheid was “deurslaggewend” vir Sirië ná die val van Bashar al-Assad. Die Verenigde Nasies het gesê die val van Assad moet gevolg word deur aanspreeklikheid, vir hom en ander verantwoordelik vir die misdade tydens sy bewind. Turk sê mense wat verdwyn het, marteling en gebruik van chemiese wapens sowel as andere gruwelmisdade, moet volledig ondersoek word en geregtigheid moet geskied.
# Tennis: Die uitgeslape Italianer, Lorenzo Sonego, het die opkomende tiener-ster, Joao Fonseca, ‘n rillerstryd in die tweede ronde by die Australiese Ope in vyf stelle uitgeboender. Die talentvolle 18-jarige Brasiliaan het ʼn opskudding veroorsaak toe hy die negende gekeurde Andrey Rublev uitgeskakel het en was skynbaar op pad na nog ‘n opskudding. Die 55ste gekeurde Sonego het egter verbete teruggeveg om met 6-7, 6-3, 6-1, 3-6 en 6-3 te seëvier. Die nederlaag was die eerste na 15 oorwinnings vir Fonseca. Carlos Alcaraz en Novak Djokovic het vandeesweek gesê hy is bestem vir groot dinge.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-84-sent teen die dollar, 19-rand-39-sent teen die euro en 23-rand-1-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 98-duisend-899-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-708-dollar-16-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 80-dollar-63-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….