Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 10 Januarie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Solidariteit se hofgeding teen die Nasionale Gesondheidsversekering gaan voort
# Putin is nie gekant teen gesprekke met Trump nie
# En, tennis: Felix Auger-Aliassime en Madison Keys in eindstryde in Adelaide
# Die vakbond Solidariteit sê die NGV-skema is onrealisties en ‘n onvolhoubare finansiële las op belastingbetalers, Hy verwerp die regering se bevordering daarvan as leë politieke beloftes. Solidariteit het ‘n hofsaak aanhangig gemaak om die Wet op Nasionale Gesondheidsversekering te stop en beplan om vanjaar die geveg voort te sit. Theuns du Buisson van Solidariteit waarsku die plan kan tot 1,3-duisend-miljard-rand kos en sal tot groot belastingverhogings lei:
# Operasie Dudula verskerp sy eis dat Suid-Afrikaanse leerders voorrang moet geniet bo kinders van buitelandse burgers in openbare skole. Skole heropen volgende week. Adjunk nasionale organiseerder, Che Serobedi, het planne bekendgemaak om lede landwyd te ontplooi om toelatings te monitor. Die groep is gekant teen die Wysigingswet op Basiese Onderwyswette, wat ongedokumenteerde leerders toelaat om in te skryf. Serobedi kritiseer die regering se benadering en beweer Suid-Afrikaanse kinders word afgeskeep.
# Die Referendum Party sê hy neem kennis van die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie, se veroordeling van die Afghaanse krieketfederasie se diskriminasie teen vroue. Die minister ondersteun oproepe dat die Proteas volgende maand die Internasionale Krieketraad se kampioenskapstrofee-wedstryd teen Afghanistan boikot. Hy sê daar is morele kommer oor die Taliban-regering se verbod op vrouesport en die ontbinding van die land se vroue-krieketspan in 2021. Die Referendum Party se leier, Phil Craig, sê hulle ondersteun die minister se standpunt:
# Die Kremlin sê Russiese president Vladimir Putin is sonder voorwaardes bereid om samesprekings met Donald Trump te hou. Dit volg ná opmerkings deur die verkose Amerikaanse president oor ‘n vergadering wat tussen die twee belê word. Putin se woordvoerder, Dmitri Peskov, het aan verslaggewers gesê hy het herhaaldelik verklaar hy is nie gekant teen kontak met internasionale leiers nie, insluitend die Amerikaanse president. Die Kremlin verwelkom Trump se gereedheid om probleme deur middel van dialoog op te los. Trump sal ná sy inhuldiging op 20 Januarie die amp beklee.
# Tennis: Felix Auger-Aliassime het vier wedstrydpunte en drie ure nodig gehad om Tommy Paul met 7-6, 3-6 en 6-4 te verslaan en tot die eindronde van die Adelaide Internasionae toernooi deur te dring. Kort voor die Australiese Ope is dit sy 16de eindstryd en ‘n oorwinning sal sy sesde titel beteken. In die vroue-afdeling het Madison Keys, wat twee keer tot die halfeindstryd by die Australiese Ope gevorder het, Liudmilla Samsonova met 5-7, 7-5 en 3-0 verslaan en is in haar tweede eindstryd. Die Adelaide-kampioen van 2022 se swaar-verbinde teenstander moes tou opgooi in die derde stel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-98-sent teen die dollar, 19-rand-56-sent teen die euro en 23-rand-34-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 94-duisend-943-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-681-dollar-50-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 78-dollar-67-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….