Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 31 Desember 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Spesiale Ondersoekeenheid ontbloot korrupsie in die Vrystaat se internasionale beursskema
# Die Amerikaanse Tesourie sê Chinese kuberkrakers het sy stelsel binnegedring
# En tennis: Die wêreld se voorste speler, Aryna Sabalenka, bewys haar klas in Brisbane
# Die Spesiale Ondersoekeenheid stel ondersoek in na die Vrystaat se omstrede internasionale beursprogram. Die program, wat minderbevoorregte studente moes ondersteun, het later deurgeloop onder kritiek omdat begunstigdes gesukkel het om werk te kry met hul internasionale kwalifikasies. Die ondersoek het tot dusver wanbestuur en korrupsie aan die lig gebring. Die provinsiale regering se woordvoerder, Matshediso Setai, het aan SABC Nuus gesê die program het die regering reeds 3,9-miljard-rand gekos:
# Die Johannesburgse polisie het opdrag gegee dat drankwinkels en vermaaklikheidsplekke in die stadskern teen ses-uur vanaand moet sluit. Die burgemeesterskomiteelid vir Veiligheid en Sekerheid, Mgcini Tshwaku, sê daar gaan tydens die Nuwejaarsvieringe veral aandag gegee word aan openbare veiligheid, die vermindering van misdaad en drink en bestuur. Hy het aan Newzroom Afrika gesê Suid-Afrikaners moet verantwoordelik feesvier om ‘n veilige oorgang na 2025 te verseker:
# Die ses groot damme in die Wes-Kaap staan steeds op meer as 90-persent-vermoë ondanks ‘n effense daling. Die gemiddelde watervlak het gedaal van 93,4- tot 90,7-persent, vergeleke met 91,1-persent verlede jaar. Die grootste dam, Theewaterskloof, staan op 90,3-persent en die Voëlvleidam op 92,7-persent. Onlangse buite-seisoense reënval het gehelp en al is die somerweer nou op hande, bly die watertoevoer sterk.
# Amerikaanse amptenare sê ‘n Chinese staatsgeborgde kuberkraker het vroeër hierdie maand die Amerikaanse Tesourie se stelsels binnegedring en kon toegang verkry tot werknemers se werkstasies sowel as sekere ongeklassifiseerde dokumente. Die oortreding word as ‘n reuse-voorval beskou. Die kuberkrakers was vermoedelik agter inligting aan, en nie agter geld nie. Die Tesourie ondersoek tans die uitwerking van die voorval in samewerking met die FBI en ander agentskappe. ‘n Woordvoerder van die Chinese ambassade het aan BBC News gesê die beskuldiging is ‘n smeerveldtog, sonder enige feitelike grondslag.
# Tennis: Die wêreld nommer een, Aryna Sabalenka, het vandag haar enkelspelveldtog in die Brisbane-internasionale toernooi afgeskop met ‘n oorwinning van 6-4, 6-stroop oor Renata Zarazua van Mexiko. Die speler van Belarus gebruik die toernooi as voorbereiding om die Australiese Ope die derde jaar agtereenvolgens in te palm. Vandag se wedstryd in die Pat Rafter-arena was ʼn voorspel vir wedstryde later in die mansenkelspel waarby Nick Kyrgios en Novak Djokovic betrokke sal wees. Djokovic en Kyrgios het gister hulle dubbelspelwedstryd in die eerste ronde gewen.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-80-sent teen die dollar, 19-rand-58-sent teen die euro en 23-rand-59-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 93-duisend-948-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-613-dollar-16-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 74-dollar-50-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….