Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 24 Desember 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Adunkpresident Mashatile loof die sleutelprestasies van die sewende administrasie
# Krieket: Sam Konstas maak sy buiging vir Australië in die Tweede Kersdagtoets teen Indië
# En Bewaringsbewustes sê daar is min tyd oor om te keer dat Afrika-pikkewyne uitsterf
# Adjunkpresident Paul Mashatile het die sewende administrasie van die regering van nasionale eenheid geprys oor sy sleutelprestasies in 2024. Hy het sy Kersboodskap aan Suid-Afrikaners gelewer en die bykans 300 dae sonder beurtkrag sowel as die eerste beurtkragvrye winter in vyf jaar uitgesonder. Mashatile loof ook die aandag aan wateruitdagings, te danke aan president Cyril Ramaphosa se watertaakspan, en die maatreëls wat ingestel is om onwettige spazawinkels, voedselveiligheid en misdaad aan te pak:
# Suid-Afrika sal in 2025 sy voorkeurtoegang tot Amerikaanse markte behou ingevolge die Wet op Groei en Geleenthede in Afrika, ondanks die spanning tussen die twee lande. Amerika se handelsverteenwoordiger, Katherine Tai, sê die lys lande wat vir belastingvrye toegang kwalifiseer, bly onveranderd. Suid-Afrika se bande met China en sy standpunt oor Oekraïne en Israel het die VSA veral ongemaklik gemaak. AGOA verstryk einde volgende jaar. Suid-Afrika se verhouding met Amerika is van die uiterste belang vir die land se ekonomie.
# Die ANC neem kennis en verwelkom die amptelike afkondiging van Mosambiek se verkiesingsuitslae deur die Grondwetlike Raad. ANC-woordvoerder Mahlengi Bhengu-Motsiri sê as ’n jarelange bondgenoot en vennoot van die mense van Mosambiek, bevestig die party sy respek vir die grondwetlike proses en instellings wat demokrasie in die streek beskerm. Sy sê die ANC versoek alle politieke partye, belanghebbendes en burgers in Mosambiek om die afgekondigde uitkoms te respekteer en eenheid en nasionale ontwikkeling voorop te stel:
# Krieket: Sam Konstas word of Tweede Kersdag een van die jongste toetsspelers nog om die beurt vir Australië te open wanneer hy sy buiging teen Indië maak op die MCG in Melbourne, voor ‘n skare van 90-duisend mense. Konstas is Donderdag 19-jaar-en-85-dae oud en word die Baggy Green se jongste toetsspeler sedert sy kaptein, Pat Cummins, wat in 2011 op 18-jaar-en-193-dae teen Suid-Afrika sy eerste toets gespeel het. Die reeks van vyf toetse is tans gelykop met een-elk en die laaste een begin op drie Januarie in Sydney.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-56-sent teen die dollar, 19-rand-31-sent teen die euro en 23-rand-27-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 93-duisend-998-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-615-dollar-34-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 72-dollar-97-sent per vat.
# En ten slotte: Die Internasionale Natuurbewaringsvereniging is bekommerd dat daar min tyd oor is om die uitsterwing van Afrika-pikkewyne te keer. Dit volg nadat die organisasie die spesie in Oktober van bedreig tot kritiek-bedreig opgeskuif het. Die Afrika-pikkewyn ondervind ‘n katastrofiese afname in sy bevolking, teen meer as 97-persent die afgelope eeu. Die organisasie neem kennis van broeipare wat voortdurend afneem en voedselbronne wat skaarser word weens klimaatsverandering en menslike uitwerking. Die vereniging pleit vir beter beskerming van die oorblywende voëls.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….