Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 23 Desember 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Referendum-party sê die regering van nasionale eenheid het ‘n rubberstempel vir ANC-beleid geword
# Mosambiek staal hom vir die beslissing oor die betwiste verkiesingsuitslae
# En, krieket: Die Suid-Afrikaans-gebore Bevon Jacobs kan sy buiging vir Nieu-Seeland maak in die T20-reeks teen Sri Lanka
# Die Referendum-party sê die besluit om die Wysigingswet op Basiese Onderwyswette ten volle in werking te stel, is uiters betekenisvol. Die party se leier, Phil Craig, sê dit bevestig wat die party reeds vermoed het, naamlik dat die regering van nasionale eenheid ‘n rubberstempel vir ANC-beleide geword het. Hy sê dit hou ernstige gevolge in, wat baie verder strek as slegs BELA. Craig sê die ANC gaan voort om sy eie ekonomiese beleid in te stel, hy storm volspoed voort met die Nasionale Gesondheidsversekering, en brei rasgegronde beleidmaking uit:
# ActionSA het bekendgemaak dat die Ministerie van Minerale en Petroleum-hulpbronne onder minister Gwede Mantashe in slegs vier maande ‘n verbysterende 1,92-miljoen-rand aan internasionale reise bestee het. Alan Beesley van Action SA sê belastingbetalersgeld is skynbaar uitgegee op luukse reise onder die dekmantel van amptelike pligte . Hy sê die patroon is simptomaties van ‘n algemene versuim deur die ANC om voorkeur te gee aan fiskale dissipline in regering:
# Die Stad Tshwane het ‘n verbetering in reservoirvlakke aangeteken, met die meeste wat meer as 50-persent bereik het. Burgemeester Nasiphi Moya het inwoners aangemoedig om water steeds spaarsaam te gebruik, veral nadat Rand Water waterbeperkings ingestel het. Gebiede soos Soshanguve, Mabopane en Laudium ondervind voortdurende probleme weens die hoë verbruik, oorbevolking en onwettige verbindings. Bronkhorstspruit is steeds sonder water weens die stilstand van sy suiweringsaanleg. Moya het inwoners gerusgestel en sê daar is ingrypings, insluitend watertenkwaens in gebiede wat geraak word.
# Mosambiek wag op die Grondwetlike Raad se bevestiging rakende die betwiste verkiesingsuitslae. Daar is vrese vir toenemende geweld nadat die opposisieleier, Venancio Mondlane, chaos beloof het indien Daniel Chapo van Frelimo tot president verklaar word. Die verkiesing in Oktober het dodelike betogings ontketen, met ten minste 130 mense wat gesterf het te midde van bewerings oor die manipulering van stemme. Ontleders waarsku die nasie verkeer in sy gevaarlikste krisis nog, en vergelyk dit met soortgelyke opstande in Arabië.
# Krieket: Die Suid-Afrikaans-gebore kolwer Bevon Jacobs kan sy buiging vir Nieu-Seeland maak nadat hy die eerste keer vir sy aangenome land opgeroep is vir drie T20’s teen Sri Lanka. Die 22-jarige speel sedert verlede jaar vir Canterbury en ook volgende jaar in die Indiese Premierliga vir Mumbai Indians. Dit volg na sy indrukwekkende vertoning in die Super Smash, waar hy 134 lopies in ses kolfbeurte aangeteken het. Die nasionale keurder, Sam Wells, sê Jacobs is ‘n belowende, hoogs begaafde speler wat internasionale blootstelling verdien.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-40-sent teen die dollar, 19-rand-13-sent teen die euro en 23-rand-9-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 96-duisend-32-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-619-dollar-67-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 72-dollar-32-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….