Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 20 Desember 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Lewensversekeraars verskerp beheer te midde van moord-vir-geld-swendelary
# Nuwe maatreëls word ingestel om die opeenhoping op die Lebombo-grenspos te verlig
# En, tennis: Die United Cup stel taktiese onderbrekings in die gemengde dubbelspel op die proef
# Lewensversekeraars het beheer verskerp om toenemende moord-vir-geld-swendelary te bekamp, waar slagoffers vermoor word vir bedrieglike versekeringsuitbetalings. Volgens News24 sluit maatreëls in strenger onderskrywingsprosesse, beperkings op derdeparty-beleid, die gebruik van kunsmatige intelligensie en data-ontleding om verdagte eise op te spoor. ‘n Voormalige polisiebeampte, Rachel Kutumela, haar dogter en haar suster staan tans tereg op aanklag van moord op verskeie mense in Limpopo vir uitbetalings ter waarde van tien-miljoen-rand. Die bedryf werk saam met die polisie en finansiële reguleerders om hierdie misdade te stop.
# Die Grensbestuursowerheid sê planne is gemaak om die opeenhoping van verkeer op die Lebombo-grenspos in Mpumalanga aan te pak. Die kommissaris, Michael Masiapato het aan Newzroom Afrika gesê Suid-Afrikaanse en Mosambiekse amptenare sal saamwerk, en hommeltuie sal die eerste keer ontplooi word nadat die minister van Binnelandse Sake, Leon Schreiber, dit van stapel gestuur het. Masiapato sê politieke onrus en onwettige migrasie bly kernkwessies, maar dit word gemonitor:
Daar was tussen die tweede en die 15de van die maand 56 noodlottige motorongelukke in die Wes-Kaap, met 62 sterfgevalle. Dit is ‘n kommerwekkende toename in sterftes en weerspieël ‘n breër nasionale neiging. Om padveiligheid te verbeter, is 85 nasionale verkeersbeamptes ontplooi. Die provinsie se LUR vir Beweeglikheid, Isaac Sileku, versoek padgebruikers om verkeerswette te gehoorsaam en bedag te wees op veiligheid aangesien verkeersvolumes na verwagting gaan toeneem:
# Russiese missiele het mense beseer en geboue beskadig in twee Oekraïnse stede. Amptenare sê twee mense is beseer toe ontploffings vanoggend in die hoofstad, Kiëf, voorgekom het. Volgens die Lugmag was die stad se lugverdediging besig om ander Russiese missiele af te weer. ‘n Missielaanval het ‘n tweeverdieping-gebou getref en ses mense beseer in president Volodymyr Zelenskyy se tuisdorp, Kryvyi Rih. Twintig voertuie is ook beskadig terwyl pasiënte uit ‘n hospitaal verskuif moes word.
# Tennis: Die United Cup-spankompetisie in Australië sal die eerste toernooi wees waar taktiese onderbrekings in gemengde dubbelspelwedstryde ingestel word. ‘n Speler of kaptein mag een keer in ‘n wedstryd ‘n onderbreking van ‘n minuut vra om taktiek te bespreek deur ‘n rooi knoppie te druk. Die reël kan net gebruik word terwyl die spesifieke speler afslaan. Agtien gemengde spanne sal van volgende Vrydag in die toernooi in Perth en Sydney speel as voorspel tot die Australiese Ope wat op 12 Januarie in Melbourne begin.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-39-sent teen die dollar, 19-rand-5-sent teen die euro en 22-rand-98-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 93-duisend-965-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-601-dollar-2-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 71-dollar-69-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….