Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 19 Desember 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Motoriste word aangemoedig om versigtig te ry op die N3-tolroete
# Brittanje onthul ‘n nuwe militêre hulppakket van 5,2-miljard-rand aan Oekraïne
# En, motorsport: Liam Lawson word Max Verstappen se spanmaat by Red Bull
# Die N3-tolkonsessie moedig motoriste aan om versigtig te ry op die N3-tolroete in Mpumalanga, Gauteng, die Vrystaat en KwaZulu-Natal, aangesien die swaar reën voortduur. ‘n Opeenhoping van verskeie voertuie naby Van Reenen is intussen opgeruim. Thania Dhoogra van die konsessie sê meer as 80-persent van alle ongelukke op die roete is weens menslike foute. Dit sluit in bestuurders se nalatigheid, aandag wat afgelei word, spoedoortredings, roekeloosheid, moegheid en ‘n aggressiewe bestuurstyl.
Limpopo se Departement van Vervoer gaan intussen hierdie feestyd sterk optree teen oorlaaide voertuie. Amptenare teiken die N1-roete van Pienaarsrivier na Beitbrug en het dié maand reeds meer as duisend-400 voertuie ondersoek. Oorlading kan bande laat bars, remme laat faal en tot onbestendigheid lei, wat lewens in gevaar stel. Die departement se woordvoerder, Tidimalo Chuene, sê bestuurders word versoek om die laairegulasies te volg:
# Die Suid-Afrikaanse Nasionale Christelike Forum het die regering se besluit verwelkom om die spertyd vir die registrasie van spazawinkels en ander voedselverkooppunte tot 28 Februarie uit te stel. Die uitbreking van voedseloordraagbare siektes sedert September het gelei tot 890 gevalle en bykans 30 sterftes. Die forum se president, Marothi Mashashane, sê die uitbreiding sal egter nutteloos wees indien die eienaars van spazawinkels nie opgelei word nie:
# Brittanje het ‘n militêre hulppakket van 5,2-miljard-rand aan Oekraïne onthul, insluitend hommeltuie, bote en lugverdedigingstelsels. Dit volg nadat die Britse minister van Verdediging, John Healey, gister samesprekings gevoer het met sy Oekraïense ampsgenoot, Rustem Umerov. Hy het beloof om volgende jaar Britse steun aan Oekraïne te versterk. Healy sê byna drie jaar na Rusland se inval is die omvang van president Vladimir Putin se berekeningsfout duideliker as ooit, met die dapper mense van Oekraïne se onwrikbare gees wat alle verwagtinge oortref.
# Motorsport: Die Nieu-Seelander, Liam Lawson, jaag volgende seisoen vir Red Bull langs die wêreldkampioen, Max Verstappen van Nederland, na die besluit om die Mexikaan Sergio Perez vry te stel. Die Formule Een-span het bevestig die 22-jarige Lawson word bevorder van Red Bull se suster-span, Racing Bulls, nadat hy reeds drie keer in sy jong F1-loopbaan onder die voorste tien jaers geëindig het. Perez was onder baie druk na swak uitslae en verlaat die span na vier seisoene.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-23-sent teen die dollar, 18-rand-98-sent teen die euro en 23-rand-5-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 102-duisend-284-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-621-dollar-19-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 72-dollar-94-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….