Nuus 15:00
BULLETIN 18 Augustus 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Munisipale Afbakeningsraad gaan nie enige munisipale grense wysig nie
# Meer ondernemings belê in hernubare energie om minder afhanklik van Eskom te wees
# En krieket: Maphaka word ingesluit in die Protea-groep vir die eendagreeks teen Australië
# Die Munisipale Afbakeningsraad het ná ‘n landwye raadplegings- en navorsingsproses besluit om geen munisipale grense te verander nie. Die besluit raak 13 gevalle in 18 munisipaliteite, insluitend Ventersdorp, Tlokwe, Qwaqwa, Mjindi en Naledi. Sekere gemeenskappe beplan hofstappe, maar die uitvoerende hoof, Manye Moroka, gewaarsku dit kan die afbakening van wyke voor 2026 se verkiesing vertraag. Hy het aan SABC News gesê ‘n voorgestelde wetsontwerp kan binnekort ‘n appèlmeganisme instel:
# Die minister van Water en Sanitasie, Pemmy Majodina, het aangekondig meer as 176-miljard-rand is in die laaste drie dae van die Waterbeleggingsberaad in Kaapstad ingesamel. Sy sê 80 belangrike waterbeleggingsprojeke van 38 verskillende lande is vir die beraad gekies. Volgens haar het gebrekkige beleggings in water alle winste van al die volhoubare ontwikkelingsplanne van water en sanitasie beïnvloed:
# Eskom het wel ‘n verbetering in sy bedryfsprestasie getoon, maar volgens Stanlib se hoofekonoom, Kevin Lings, belê Suid-Afrikaanse ondernemings steeds toenemend in alternatiewe energiebronne om afhanklikheid van die kragverskaffer te verminder en stygende elektrisiteitskoste te versag. ‘n Verslag deur Green Cape het beraam die privaat sektor sal teen 2030 ‘n verdere ses-duisend-megawatt sonkrag en drie-duisend-500-megawatt windkrag in die land byvoeg. Lings sê die herhaalde verhogings van bo-inflasie in elektrisiteitstariewe het veroorsaak dat ondernemings nou alternatiewe soek om koste te probeer bespaar.
# Die DA in Limpopo vra dat ‘n onafhanklike wildbestuurspesialis dringend die toekoms van die renosters ondersoek wat vanuit Polokwane hervestig is. Die renosters is in 2017 na ‘n onbekende reservaat verskuif na ‘n stropingsvoorval. Mariëtte Pretorius van die DA sê ‘n onafhanklike bestuurspesialis moet ‘n koste- en waarde-ontleding doen en aanbevelings doen oor die beste belange van die renosters sowel as die belastingbetalers van Polokwane:
# Krieket: Die snelbouler Kwena Maphaka is in die Proteas se groep ingesluit vir die reeks van drie eendagwedstryde teen Australië. Die 19-jarige was indrukwekkend in die T20-wedstryde teen die Aussies toe hy nege paaltjies platgetrek het – die meeste in die reeks wat die gasheer 2-1 gewen het. Australië verwelkom intussen die ervare kolwer, Marnus Labuschagne, terug in die groep nadat hy vir die onlangse toetsreeks teen die Wes-Indiese Eilande weggelaat is. Die eerste eendagwedstryd word môre in Cairns gespeel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-61-sent teen die dollar, 20-rand-58-sent teen die euro en 23-rand-85-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 115-duisend-en-46-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-348-dollar-42-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 65-dollar-77-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….