Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 17 Desember 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Daar bestaan toenemende druk om dronkbestuur tot ‘n nasionale ramp te verklaar
# Krieket: ‘n Australiese vrouebouler word berispe omdat sy vloek
# En, ‘n Brasiliaanse regter gelas dat ‘n Adele-liedjie wêreldwyd verbied moet word
# Die stigter van South Africans Against Drunk Driving, Caro Smit, het die regering versoek om dronkbestuur tot ‘n nasionale ramp te verklaar na noodlottige botsings in die Oos-Kaap en KwaZulu-Natal. Smit het in gesprek met Newzroom Afrika gesê dronkbestuur is ‘n reuse bedreiging vir padveiligheid, en pleit vir gespesialiseerde howe om oortreders te vonnis en om drankwinkels wat besope klante bedien te straf. Sy doen ‘n beroep op burgers om te verenig teen dronkbestuur:
# Die Suid-Afrikaanse Nasionale Christenforum sê die sperdatum vandag vir die registrasie van spazawinkels is onregverdig en onduidelik. Die forum vra ‘n uitstel van die sperdatum weens verwarring en vertragings in die proses. Die president van die forum, Marothi Mashashane, sê baie munisipaliteite was onvoorbereid, met onduidelike voorskrifte en vorms wat eers beskikbaar was nadat die spertyd van 21 dae aangekondig is:
# Die minister van Water en Sanitasie Pemmy Majodina het nuwe damprojekte aangekondig om Suid-Afrika se waterskaarsheid aan te spreek, met bouwerk wat laat in 2025 sal begin. Sleutelprojekte sluit in die Cwabeni- en Stephen Dlamini-damme in KwaZulu-Natal en die uitbreiding van bestaande damme soos Clanwilliam en Tzaneen. Intussen sê Majodina in ‘n verklaring munisipale skuld aan waterrade sleep voort, met verskeie munisipaliteite wat nie hulle rekenings betaal nie. Die minister sê die regering weerhou toelaes vir nie-voldoenende munisipaliteite en dwing streng terugbetalingsvoorwaardes af om finansiële volhoubaarheid te verseker.
# Krieket: Die Australiese snelbouler, Kim Garth, is berispe omdat sy verlede week tydens die derde eendagwedstryd teen Indië in Perth gevloek het. Daar is bevind sy het vlak een van die gedragskode van die Internasionale Krieketraad vir die gebruik van ‘n hoorbare kragwoord tydens ‘n internasionale wedstryd oortree. Een strafpunt is ook by Garth se dissiplinêre rekord gevoeg na haar eerste oortreding in 24 maande. Daar is bevind sy het onvanpaste taal gebruik nadat haar aflewering vir ‘n grenshou geslaan is.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-6-sent teen die dollar, 18-rand-93-sent teen die euro en 22-rand-92-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 107-duisend-227-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-638-dollar-89-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 73-dollar-1-sent per vat.
# Ten slotte: ‘n Brasiliaanse regter het gelas dat ‘n 2015-liedjie deur die Britse pop-superster Adele, Million Years Ago, wêreldwyd verbied moet word, insluitend op stroomdienste. Dit volg weens die Brasiliaanse komponis, Toninho Geraes, se voortslepende plagiaat-eis. Die bevel dreig Adele se platemaatskapye, Sony Music Entertainment en Universal Music met ‘n boete van 143-duisend-rand vir alle gevalle van nie-nakoming. Geraes beweer plagiaat teen sy klassieke samba-treffer Mulheres, wat die beroemde Brasiliaanse sanger, Martinho da Vila opgeneem het, en dagvaar vir verlore tantième, morele skadevergoeding en erkenning aan die liedjieskrywer op Adele se snit.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….