Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 13 Desember 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die onderburgemeester van Nelson Mandelabaai word geskors na sy hofverskyning
# Druk verkeer word van vandag op die N3-tolroete verwag
# En Tyla blink uit op die Billboard-musiektoekennings met twee pryse
# Die burgemeester van Nelson Mandelabaai, Babalwa Lobishe, het bevestig onderburgemeester Gary van Niekerk is geskors na sy verskyning in die Handelsmisdaadhof op aanklagte van kubermisdaad en finansiële wangedrag. Lobishe het die raad se besluit aangekondig nadat uitgebreide beraadslagings gehou is. Sy sê Van Niekerk sal ‘n gewone raadslid bly terwyl die saak na die Oos-Kaapse LUR vir Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Zolile Williams, verwys is vir verdere optrede:
# Organisasies ten gunste van billike toegang tot medisyne het die Mededingingskommissie gekritiseer omdat die ondersoek na Vertex Pharmaceuticals beëindig is. Die maatskappy word verdink van monopoliemisbruik van behandeling vir sistiese fibrose. Groepe soos die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Sistiese Fibrose en Section 27 glo dit beteken die meeste pasiënte sal geen toegang hê tot lewensreddende behandeling nie, aangesien slegs diegene met duur mediese versekering baat sal vind. Heinchen Kok van die vereniging eis dat die ondersoek heropen word, en beklemtoon onbillike pryse en ‘n gebrek aan deursigtigheid vererger gesondheids-ongelykhede.
# Die N3-tolkonsessie sê daar sal na verwagting van vandag tot Sondag verhoogde verkeersdruk wees op die tolroete wat deur Gauteng, die Vrystaat, Mpumalanga en KwaZulu-Natal loop. Die bedryfsbestuurder, Thania Dhoogra, sê mediese nood- en gevorderde lewensondersteuningsdienste is gereed om op noodgevalle te reageer. Sy sê wetstoepassingsdienste sal geen verdraagsaamheid teenoor verkeersoortreders hê nie:
# Nou sportnuus: 2024 se Nasionale Skolesportkampioenskap vind van vandag tot Sondag in Tshwane plaas en word aangebied deur die Departemente van Basiese Onderwys en van Sport, Kuns en Kultuur. Die byeenkoms sluit agt sportsoorte in, naamlik gimnastiek, basketbal, doelbal, tennis, vlugbal, rugby, sagtebal en tafeltennis, met talent van reg oor Suid-Afrika. Volgens die departemente bevorder die kampioenskap sosiale samehorigheid, hervorming en geleenthede vir leerders uit minderbevoorregte gebiede, terwyl die uitkenning van talent en ontwikkeling van sport in skole ondersteun word.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-89-sent teen die dollar, 18-rand-78-sent teen die euro en 22-rand-64-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 100-duisend-483-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-666-dollar-42-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 73-dollar-96-sent per vat.
# En ten slotte: Die Suid-Afrikaanse popsensasie, Tyla, het uitgeblink op 2024 se Billboard-musiektoekennings en is vereer vir beste Afrobeats-liedjie en Afrobeats-kunstenaar. Sy is agt keer in ses kategorieë benoem, insluitend Top R-en-B-kunstenaar en Top R-en-B vroulike kunstenaar. Tyla, wat bekend is vir amapiano-musiek, het ook toekennings verower op die SAMA’s, Grammys, BET en MTV EMA’s. Sy het haar aanhangers bedank vir hul ondersteuning:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….