Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 3 Desember 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa bepleit die samewerking van die burgerlike samelewing in die G20-presidentskap
# Die Parlement se komitee vir Handel gaan Suid-Afrikaanse banke dagvaar oor kredietkwessies en heffings
# En, rugby: Die Stormers se kaptein is dalk ook die naweek op die kantlyn
# President Cyril Ramaphosa doen ‘n beroep vir sterk burgerlike gemeenskapsbetrokkenheid by Suid-Afrika se G20-presidentskap, en moedig wye deelname aan om inklusiewe globale besluitneming te verseker. Hy sê die stemme van mense in die sakesektor, arbeid, die jeug en kwesbare gemeenskappe is deurslaggewend om globale oplossings te vorm. Ramaphosa het op ‘n nuuskonferensie planne aangekondig vir ‘n G20-maatskaplike forum en die bekendstelling van ‘n nuwe township20-projek om die potensiaal van township-ekonomieë ten toon te stel:
# Die Parlement se komitee vir Handel, Nywerheid en Mededinging beplan om handelsbanke vroeg volgende jaar te ontbied en verskeie kwessies aan te pak. Die voorsitter, Mzwandile Masina, beklemtoon kommer oor verbruikers se maklike toegang tot krediet, terwyl krediet vir die skepping van ondernemings skaars bly. Hy kritiseer banke oor die onredelike heffings en eensydige wette. Die komitee beoog om banke aanspreeklik te hou en aandag te skenk aan hierdie kwessies om deursigtigheid en regverdigheid te verseker.
# Nigerië versoek Suid-Afrika se hulp om mynkundiges op te lei en sy wêreldwye mededingendheid te verbeter. Die Nigeriese minister van Buitelandse Sake, Bianca Odumegwu-Ojukwu, het tydens die elfde Suid-Afrika-Nigerië bi-nasionale kommissie in Kaapstad ‘n konsep-ooreenkoms van verstandhouding vir oorweging voorgelê. Sy sê die dokument getuig van die sterk bilaterale betrekkinge tussen die twee lande:
# Rugby: Die Stormers se ellendes word net langer met twyfel oor kaptein, Dan du Plessis, vir Saterdag se Kampioenebekerwedstryd teen Toulon in Gqeberha. Hy is beseer tydens die afgelope naweek se nederlaag teen die Haaie in Durban. Die veelsydige Springbok-agterspeler, Sacha Feinberg-Mngomezulu, het in dieselfde wedstryd harsingskudding opgedoen en is ook nie beskikbaar vir die kragmeting met die Franse reuse nie. Die voorspeler-afrigter Rito Hlungwani sê die opwindende jong senter, Jonathan Roche, kan oorweeg word om sy buiging in eersterangse rugby te maak.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-9-sent teen die dollar, 19-rand-2-sent teen die euro en 22-rand-90-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 94-duisend-867-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-643-dollar-53-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 72-dollar-33-sent per vat.
# En ten slotte: ‘n Studie van die Universiteit van Kaapstad het die vlakke van damprook onder hoërskoolleerders in Suid-Afrika aan die lig gebring, met byna 30-persent van graad 12-leerders wat dit aktief gebruik. Hierdie navorsing, wat meer as 25-duisend leerders in 52 skole betrek het, is in die vaktydskrif Lancet EClinicalMedicine gepubliseer. Die studie onthul 16,8-persent van hoërskoolleerders het die afgelope 30 dae ‘n damprooktoestel gebruik. Die voorkoms het volgens verskillende grade skerp toegeneem en staan nou op ongeveer 29,5-persent onder matrieks en in sommige skole was dit selfs 46-persent. Professor Richard van Zyl-Smit sê die bevindings beklemtoon die hoogs verslawende aard van damprook.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….