Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 28 November 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die vermeende diamantskema-bedrieër Louis Liebenberg laat vaar weereens sy borgtogaansoek
# Tientalle mense sterf in modderstortings in Uganda
# En, rugby: Jaco Peyper is in beheer van ‘n nuwe elite-skeidsregterspaneel om beamptes vir die internasionale verhoog voor te berei
# Die vermeende diamantskema-bedrieër, Louis Liebenberg het sy borgtogaansoek ‘n tweede keer laat vaar in die Landdroshof in Bronkhorstspruit, Gauteng. Hy en sy vrou, Dezzi, is verlede maand saam met agt ander mense in hegtenis geneem. Liebenberg staan tereg op aanklagte van rampokkery, bedrog en geldwassery in verband met ‘n beleggingsbedrogspul van vier-miljard-rand. Die meeste van sy medebeskuldigdes is borgtog toegestaan, maar Dezzi is borgtog geweier. Liebenberg het verwys na siekte toe hy tydens kruisondervraging sy aansoek teruggetrek het. Die saak is tot 4 Februarie uitgestel vir verdere ondersoek.
# Die Reserwebank beplan om ‘n belang van 50-persent in die grootste betalingsverrekeningshuis in die land, BankservAfrica, te bekom om digitale betaalstelsels te verbeter. Gesprekke duur voort met die eienaars van BankservAfrica. Die sentrale bank wil finansiële insluiting deur digitalisering verbeter, wat volgens hom maatskaplike ontwikkeling sal ondersteun. Pradeep Maharaj van die Reserwebank het aan SABC News gesê die belegging is daarop gemik om Suid-Afrika se betalingsinfrastruktuur te moderniseer:
# Die Gemeenskapsveiligheidskomitee van die Gautengse wetgewer is verheug oor 209 nuwe polisievoertuie wat by stasies en gespesialiseerde eenhede afgelewer is. Die projek het ten doel om langdurige tekorte aan te pak en polisiesigbaarheid en reaksietye te verbeter. Voorsitter Bandile Masuku sê die komitee beklemtoon hierdie belegging is ‘n teken van die regering se verbintenis tot die bekamping van misdaad. Hy versoek steeds gemeenskappe om vennootskappe met wetstoepassing te smee en te versterk:
# Vrese bestaan dat minstens 30 mense dood is ná modderstortings in die dorpie Masugu, in die Bulambuli-streek in die ooste van Uganda, maar die getal kan verder styg. Die Oos-Afrikaland ervaar die afgelope paar dae stortreën. Die regering het ‘n nasionale rampwaarskuwing uitgereik ná berigte van oorstromings en grondverskuiwings. Masugu is sowat vyf ure buite die hoofstad, Kampala, en die modderstortings het laat gister gebeur. Beelde op plaaslike media wys groot dele waar die land met modder bedek is.
# Rugby: Die voormalige toetsskeidsregter, Jaco Peyper, is in beheer van die elite-skeidsregterspaneel wat SA Rugby saamgestel het met die doel om wedstrydbeamptes beter voor te berei vir die internasionale verhoog. Die voormalige nasionale paneel is verdeel in die elite- en nasionale paneel. Die hoofbestuurder van skeidsregters, Banks Yantolo, sê dit is gedoen sodat meer bepaalde werk gedoen kan word met wedstrydbeamptes op die verskillende panele. Hulle het ook weggedoen met die vrouepaneel aangesien hulle nou deel is van die twee nuwe panele.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-17-sent teen die dollar, 19-rand-17-sent teen die euro en 23-rand-2-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 94-duisend-972-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-645-dollar-65-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 72-dollar-85-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….