Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 27 November 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Meer as 500-duisend maatskappye en beslote korporasies gaan gederegistreer word
# Frankryk se minister van Buitelandse Sake sê sommige leiers het moontlik immuniteit by die Internasionale Strafhof
# En, fietsry: Australië skors die Olimpiese atleet Matt Richardson lewenslank nadat hy trou sweer aan Brittanje
# Die Kommissie vir Intellektuele Eiendom en Maatskappye staan op die punt om meer as 500-duisend maatskappye en beslote korporasies te deregistreer vir nie-voldoening. Dit volg op ‘n formele kennisgewing in September aan maatskappye wat versuim het om hul jaarlikse opgawes en verklarings oor voordelige eienaarskap in te dien. Woordvoerder Ndileka Cola sê maatskappye wat ter sprake is moet hul inligting teen Februarie bywerk of beboet word:
# Pepkor het sy verkryging van Choice Clothing aangekondig. Die afslag-kleinhandelaar het meer as 100 winkels in Suid-Afrika en Namibië. Die stap versterk Pepkor se markteenwoordigheid in volwasse klere, ‘n segment waarin hy tans ‘n kleiner aandeel besit. Choice Clothing, bekend vir sy bekostigbare mode, bedryf die handelsmerke Choice Clothing en Big Daddy, wat voorsiening maak vir die afslagmark. Pepkor beplan om die onderneming aggressief uit te brei, en moontlik sy kleinhandelnetwerk te verdriedubbel. Die transaksie moet nog deur reguleringsowerhede goedgekeur word.
# Die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor verwag die koste van die instelling van die tweepot-aftreestelsel sal jaarliks met 300-miljoen-rand styg. Die koste beloop reeds 1,6-miljard-rand sedert die instelling op 1 September, insluitend uitgawes vir bykomende personeel, kommunikasie en nuwe oproepsentrums. Die adjunkkommissaris van die owerheid, Astrid Ludin, het aan die Parlement se staande komitee oor Finansies verduidelik die grootste uitgawes was vir veranderings aan die stelsel en kommunikasie met lede ter ondersteuning van die nuwe stelsel:
# Die Franse minister van Buitelandse sake, Jean-Noel Barrot, sê sommige leiers het moontlik immuniteit by die Internasionale Strafhof ingevolge die Statuut van Rome wat die instelling gevestig het. Die hof het lasbriewe uitgereik vir die Israelse premier, Benjamin Netanyahu, die voormalige minister van verdediging, Yoav Gallant, en die militêre hoof van Hamas, Mohammed Deif. Barrot was vaag oor of Frankryk Netanyahu sou in hegtenis neem indien hy op Franse grondgebied sou kom. Volgens hom hanteer die statuut die vraag oor immuniteit vir sekere leiers. Hy sê uiteindelik moet die regbank besluit.
# Fietsry: Australië het die Olimpiese atleet Matt Richardson lewenslank geskors nadat hy trou gesweer het aan Brittanje. Dit was enkele weke nadat hy drie medaljes vir Australië in Parys ingepalm het. Die baanfietsryer is in Engeland gebore en het op negejarige ouderdom na Australië verhuis. Daar is bevind sy optrede was in stryd is met die waardes van die beheerliggaam, die Australiese nasionale span en die breër fietsrygemeenskap. Hulle beweer Richardson, die wêreldliggaam, UCI, en die Britse beheerliggaam het saamgewerk om sy besluit tot na die Spele geheim te hou.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-13-sent teen die dollar, 19-rand-6-sent teen die euro en 22-rand-85-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 93-duisend-575-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-646-dollar-76-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 72-dollar-56-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….