Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 26 November 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die EFF meen die Parlement het onwettig opgetree in die Phala Phala-saak
# Die koste om beide analoog- en digitale TV-seine te bedryf, bedreig die sperdatum vir migrasie
# En, krieket: Suid-Afrika en Sri Lanka pak mekaar in twee toetse van môre af
# Die EFF beskuldig die Parlement dat hy onregmatig opgetree het deur die onafhanklike paneel se aanbeveling te verwerp, om president Cyril Ramaphosa oor die Phala Phala-skandaal te ondersoek. EFF-lede het op die Mary Fitzgerald-plein byeengekom vir ‘n optog na die Konstitusionele Hof in Johannesburg waar die party die besluit uitdaag. Die EFF se regsverteenwoordiger, Kameel Premhid, het aan die hof gesê die verslag het bewyse gevind wat daarop dui dat Ramaphosa antwoorde moet gee oor die miljoene dollar wat op sy plaas gesteel is:
# Die Stad Kaapstad sal die gasheer wees tydens ‘n waterskeidingsvergadering waar leiers van 20 Afrika- en Europese stede bymekaarkom om stedelike voedseluitdagings aan te pak. Die geleentheid, wat hierdie week aangebied word, vorm deel van die AfriFOODlinks-projek, wat daarop fokus om kwessies soos hongersnood, wanvoeding en vetsug in stedelike gebiede uit te wis. Die burgemeester, Geordin Hill-Lewis, sê die informele ekonomie speel ‘n deurslaggewende rol in die versterking van voedselveerkragtigheid, terwyl jeug-ambassadeurs die sleutel sal wees tot die toekomstige vestiging van stedelike voedselstelsels.
# Die minister van Kommunikasie en Digitale Tegnologie, Solly Malatsi, waarsku die koste van die gelyktydige bedryf van sowel analoog- as digitale TV-seine bedreig die sperdatum van 31 Desember vir digitale migrasie. Die regering het volgens SABC News sedert 2014 1,23-miljard-rand aan die dubbele diens bestee, maar geen bykomende befondsing is vanjaar beskikbaar nie. Malatsi beklemtoon Sentech en die Universele Diens- en Toegangsagentskap het nie meer hulpbronne toegewys nie en sonder finansiële voorsiening sal ‘n verlenging van die sperdatum verdere besprekings oor finansiering noodsaak.
# Die organisasie Namibia Fact Check is bekommerd oor sosiale media-aanvalle op die opposisie-kandidaat Panduleni Itula en verwys na moontlike buitelandse inmenging. Namibiërs gaan môre na die stembus. Redakteur Frederico Links waarsku die veldtogte kan die land se verkiesings-demokrasie skaad, en vergelyk dit met soortgelyke waninligtings-neigings in ander Afrikalande:
# Krieket: Die Proteas en Sri Lanka, wat albei nog goed geplaas is om die eindstryd van die Wêreld-toetskampioenskap te haal, speel van môre af in twee toetse teen mekaar. Die eerste toets word in Durban gespeel waar die besoekers tot dusver al drie toetse teen die gashere gewen het. Die tweede begin die vyfde van volgende maand in Gqeberha. Sri Lanka is op die oomblik derde op die toetsranglys na Indië en Australië, gevolg deur Nieu-Seeland en Suid-Afrika.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-8-sent teen die dollar, 19-rand-2-sent teen die euro en 22-rand-76-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 92-duisend-295-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-630-dollar-38-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 73-dollar-8-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….