Nuus 15:00
BULLETIN 26 Junie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa bepleit sterker streeksamewerking deur die Suider-Afrikaanse Doeane-unie
# Netbal: Die Proteas mik na die podium in Glasgow
# En ‘n VN-dwelmverslag toon die wêreldhandel in kokaïen en tik floreer
# President Cyril Ramaphosa sê streeksamewerking is belangriker as ooit tevore weens internasionale onsekerheid en verskuiwende voorsieningskettings. Hy het tydens die Suider-Afrikaanse Doeane-unie se beraad in Kaapstad gesê geen Afrikaland kan alleen floreer in die huidige ekonomiese klimaat nie. Rampaphosa beskryf die unie as ‘n veerkragtige instelling wat reeds 116 jaar deur aansienlike wêreld- en streeksveranderings voortbestaan. Hy sê dit sal streeksintegrasie versterk en ekonomiese veerkragtigheid bevorder:
# Die Vereniging van Staatsamptenare is bekommerd oor berigte dat reële salarisse in Suid-Afrika ‘n tweejaar-laagtepunt bereik het terwyl inflasie salarisstygings verbygesteek het. Volgens die jongste Pay-Inc-aanwyser vir netto salarisse het die bedrag wat salaristrekkers ontvang in Mei effens toegeneem tot net meer as 21-duisend-500-rand, maar na die aanpassing vir inflasie, daal die reële salaris tot 20-duisend-262-rand. Woordvoerder Claude Naicker sê die daling in reële salarisse ondermyn moraal, produktiwiteit en dienslewering:
# Die vakbondfederasie Cosatu verwelkom die parlementêre portefeuljekomitee oor Gesondheid se steun vir die Wetsontwerp op die Beheer van Tabak en Elektroniese Afleweringstelsels. Dit beoog om regulasies oor rook en damprook te versterk deur onder meer rook en damprook in openbare ruimtes te verbied, en verkope vanuit outomatiese verkoopsmasjiene te beperk. Woordvoerder Matthew Parks sê rook is die hoofoorsaak van longkanker en ‘n belangrike verspreider van tuberkulose:
# Netbal: Die Proteas se hoofafrigter, Jenny van Dyk sê hulle mik na ‘n podiumplek op volgende maand se Statebondspele in Glasgow, Skotland. Elmeré van der Berg, Khanyisa Chawane en Nicola Smith is die enigste drie spelers wat aan die laaste Spele in Birmingham in 2022 deelgeneem het. Die veteraan-verdediger Karla Pretorius keer terug nadat sy sabbatsverlof geneem het vir die geboorte van haar eerste kind. Van Dyk sê hulle fokus daarop om te verbeter op hul sesde plek in Birmingham.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-45-sent teen die dollar, 18-rand-75-sent teen die euro en 21-rand-73-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 59-duisend-333-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-51-dollar-87-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 73-dollar-14-sent per vat.
# En ten slotte: Wêreldhandel in onwettige dwelms floreer, met kokaïenvervaardiging en beslagleggings van die dwelm bekend as “tik” in Suid-Afrika, op ‘n rekordhoogtepunt. Die Verenigde Nasies se jaarlikse Wêreld-dwelmverslag waarsku oor ‘n toename in nuwe dwelms wat ‘n gaping vul wat gelaat is deur die instorting van heroïenvoorraad. Kokaïenvervaardiging het in 2024 tot ongeveer vier-duisend-100 metrieke ton suiwer produk gestyg – ‘n viervoudige toename binne ‘n dekade. Tik-beslagleggings dui aan vervaardiging het teen 13-persent per jaar gegroei.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….