Nuus 15:00
BULLETIN 14 Augustus 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die minister van Kleinsake-ontwikkeling moedig entrepreneurs aan om aan die Nasionale Dialoog deel te neem
# ‘n Oorgrens-jaagtog eindig in die dood van drie moordverdagtes in Eswatini
# En gholf: Rory McIlroy sê dis onmoontlik om ‘n spelende Ryderber-kaptein te wees
# Die minister van Kleinsake-ontwikkeling, Stella Ndabeni-Abrahams, vra koöperasies en entrepreneurs om deel te neem aan die eerste fase van die Nasionale Dialoog wat môre in Pretoria begin. Dit volg na die onttrekking van nalatenskapstigtings, insluitende die Thabo Mbeki- en die FW de Klerk-stigting, en groepe soos AfriForum en Solidariteit oor befondsing- en deursigtigheidbekommernisse. Die minister het aan SABC News gesê dat klein sakeondernemings moet help om Suid-Afrika se toekoms met hulle kennis en visie te vorm:
# DRDGold het ‘n toename van 26-persent in inkomste aangeteken vir die jaar wat in Junie geëindig het en agt-miljard-rand bereik, aangevuur deur ‘n styging van 31-persent in die rand-goud-prys. Verdienste per aandeel sal na verwagting met tot 74-persent groei in vergelyking met verlede jaar. Die onderneming het meer as 155-duisend-onse goud gelewer, en bedryfskoste het met vier-persent gestyg. Die groep bly skuldvry met kontantreserwes van 1,3-miljard-rand. Kapitaaluitgawes het met 24-persent gedaal ná die voltooiing van groot projekte.
# Die polisie in Limpopo het bevestig vier gevangenes en ‘n polisiebeampte is vanoggend dood toe ‘n polisievangwa buite Mookgopong omgeslaan het. Polisiewoordvoerder Hlulani Mashaba sê gevangenes is van Mokopane na Mookgopong vervoer vir ‘n hofverskyning. Owerhede ondersoek die oorsaak van die ongeluk.
Die Suid-Afrikaanse Polisiediens en die Koninklike Eswatini Polisie het intussen drie mense opgespoor wat verdink is van die moord op sersant Lawrence Mtshweni in Mpumalanga. Die oorgrens-jaagtog het geëindig in ‘n skietgeveg waarin twee van die verdagtes dood is, terwyl die derde sy eie lewe geneem het. Polisiewoordvoerder Athlenda Mathe sê ‘n beloning van 150-duidend-rand word steeds aangebied vir inligting oor die voortvlugtende Jabulani Moyo, wat verdink word van die moord op twee polisielede in Roodepoort, Gauteng, vroeër die maand:
# Gholf: Die heersende Meesters-kampioen, Rory McIlroy, glo dis nie volhoubaar om die spelende kaptein van die Ryderbekerspan te wees nie, want daar is baie werk aan die posisie verbonde. Die 36-jarige Noord-Ierse speler sal in September in Bethpage aan sy agste Ryderbeker-kompetisie deelneem waar Europa gaan probeer om die titel die eerste keer sedert 2012 op Amerikaanse bodem te verdedig. McIlroy sê hy is genader om die spelende kaptein te wees, maar het dit dadelik van die hand gewys:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-56-sent teen die dollar, 20-rand-53-sent teen die euro en 23-rand-85-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 120-duisend-939-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-355-dollar-1-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 65-dollar-53-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….