Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 19 November 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Senzo Mchunu verbind hom tot misdaadvrye boupersele
# ‘n Veetienjarige leerder is dood en twee gewond in ‘n skietery in Elsiesrivier, Kaapstad
# En, krieket: Temba Bavuma keer terug van ‘n besering om die Proteas te lei in twee toetse teen Sri Lanka
# Die minister van Polisie, Senzo Mchunu, herbevestig die Suid-Afrikaanse Polisiediens is daartoe verbind om georganiseerde misdaad op boupersele uit te skakel, waar hulle sleutelprojekte ontwrig en ekonomiese groei in die wiele ry. Mchunu het op die Departement van Openbare Werke en Infrastruktuur se nasionale bouberaad in Durban samewerking tussen die staat en privaat vennote belowe om veilige, misdaadvrye boupersele te skep. Hy het ook bou-ondernemings versoek om misdaad onverwyld aan te meld:
# ‘n Veertienjarige leerder van die Hoërskool Ravensmead in Elsiesrivier, Kaapstad, is op pad skool toe doodgeskiet. Volgens News24 is twee ander slagoffers van 15 en 17 hospitaal toe geneem. Gewapende mans het glo in Donnegal-laan uit ‘n voertuig geklim en losgebrand voor hulle na die terrein van die Hoër Tegniese Skool St Andrew’s gevlug het. Dit het paniek gesaai en nabygeleë skole is gesluit. Ouers het hul kinders gaan haal namate kommer oor veiligheid toegeneem het. Die Wes-Kaapse polisie het sekerheidsmaatreëls verhoog en ondersoek die aanval.
# Brittanje en Indië gaan onderbreekte onderhandelings hervat om ‘n vryhandelsooreenkoms te bereik. Die twee lande se aankondiging volg nadat hulle leiers op die G20-beraad in Brasilië vergader het. Eerste minister Keir Starmer, wat in Julie die bewind in Londen oorgeneem het, beskryf die ontmoeting met sy Indiese ampsgenoot, Narendra Modi, as baie produktief en bevestig ʼn handelsooreenkoms met Delhi sal Britse groei bevoordeel. Starmer se kantoor bevestig die twee lande sal in die nuwe jaar onderhandelings hervat aangesien Brittanje ʼn nuwe strategiese vennootskap met Indië wil beding.
# Krieket: Kaptein Temba Bavuma keer terug vir Suid-Afrika se reeks van twee toetse teen Sri Lanka nadat ‘n besering hom uitgehou het uit die toetsreeks in Bangladesj. Die veelsydige Marco Jansen en die snelbouler Gerald Coetzee is terug in toetskrieket die eerste keer sedert verlede seisoen se reeks teen Indië. Kagiso Rabada, Dane Paterson en Wiaan Mulder is die ander snelboulers, en Keshav Maharaj en Senuran Muthusamy die draaiboulers. Die reeks begin die 27ste in Durban, gevolg deur die toets in Gqeberha vanaf 5 Desember.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-8-sent teen die dollar, 19-rand-8-sent teen die euro en 22-rand-84-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 91-duisend-725-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-634-dollar-64-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 72-dollar-79-sent per vat.
# En ten slotte: ‘n Studie deur die Graça Machel-trust het volgehoue maatskaplike vooroordele, geslags-salarisgapings en ongelyke toegang tot befondsing teenoor vroue uitgelig. Hierdie bevindings is op die Women in Wealth 2025-beraad in Johannesburg aangebied. Die drie-daagse geleentheid is daarop gemik om ekonomiese en maatskaplike transformasie vir vroue en die jeug op die vasteland te bevorder. Die voormalige presidentsvrou, Graça Machel, het tydens ‘n hooftoespraak gevra vir toegang tot markte, finansies en beleggings ter bevordering van vroue:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….