Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 15 November 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Statistieke SA meld ‘n sterk jaar-tot-jaar-groei van 4,7-persent in mynbou aan
# Die gewese Amerikaanse visepresident Al Gore glo Donald Trump se tweede termyn sal ‘n minimale uitwerking op klimaatsverandering hê
# En, krieket: Die Nieu-Seelandse snelbouler Tim Southee se toetsloopbaan van 18 jaar eindig volgende maand
# Statistieke Suid-Afrika het ‘n jaar-tot-jaar-verhoging van 4,7-persent in mynbouproduksie vir September aangekondig,danksy sterk vertonings deur metale in die platinumgroep, ystererts en mangaan. Steenkool en goud het egter gedaal. Mineraalverkope het ook met agt-persent toegeneem met goud en mangaan aan die voorpunt, terwyl die platinum-groep metale ‘n daling getoon het. Juan-Pierre Terblanche van Statistieke Suid-Afrika sê die mynbousektor het in die geheel tekens van herstel getoon ten spyte van ‘n paar uitdagings:
# Saftu is besorg die ontwikkelende situasie by die Margaret-skag in Stilfontein, Noordwes, kan op ʼn tragedie uitloop. Woordvoerder, Mogošadi Maserumule, sê die federasie versoek die regering om op te tree en met die leierskap van nabygeleë gemeenskappe te onderhandel om die mynwerkers te oorreed om na die oppervlak te kom. Volgens haar is die afsny van kos- en watervoorraad kwaadwillig en wraaksugtig. Maserumule sê die federasie gaan sy prokureurs opdrag gee om ‘n moontlike groepsgeding te ondersoek.
# Die Suider-Afrikaanse Geloofsgemeenskappe-Omgewingsinstituut vra dat die land se elektrisiteitstariewe dringend hersien word. Dit volg ná Eskom se voorstel aan die Nasionale Energiereguleerder oor ʼn veeljarige prysvasstelling, met ‘n verhoging van 36,15-persent. Maia Nangle van die instituut sê indien dit goedgekeur word, sal dit die bekostigbaarheidskrisis veral vir lae-inkomstegemeenskappe aansienlik vererger:
# Die voormalige Amerikaanse visepresident, Al Gore, glo Donald Trump se tweede termyn in die Withuis sal ‘n minimale uitwerking op die wêreld se stryd teen klimaatsverandering hê. Trump het met sy terugkeer beloof om die Verenigde State ‘n tweede keer van die Paryse Ooreenkoms te verwyder, en dus hierdie week ‘n skadu oor die Verenigde Nasies se COP29-klimaatgesprekke in Baku gegooi. Gore eggo die verklarings van president Joe Biden se klimaatspan, wat probeer het om ander lande te herinner globale optrede het Trump se eerste presidentskap oorleef.
# Krieket: Die Nieu-Seelandse snelbouler, Tim Southee, gaan uit toetskrieket tree aan die einde van volgende maand se reeks van drie wedstryde teen Engeland. Die 35-jarige het 102 toetse gespeel en 385 paaltjies geneem – die tweede meeste vir Nieu-Seeland naas Richard Hadlee. Hy het in vier een-dag-internasionale Wêreldbekertoernooie gespeel, sewe T20-Wêreldbekertoernooie en twee Kampioenskapstrofee-toernooie. Southee sê dit is nou die regte tyd om uit die spel te tree wat so baie vir hom gedoen het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-19-sent teen die dollar, 19-rand-23-sent teen die euro en 23-rand-6-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 89-duisend-331-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-568-dollar-27-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 71-dollar-56-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….