Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 14 November 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die KwaZulu-Natalse regering tree op oor voedselveiligheid in spaza-winkels na besmettingsvoorvalle
# Rugby: Die Bokke maak 12 veranderings aan hulle opdrafspan vir die kragmeting met Engeland
# En, Dolly Parton se Dollywood-stigting belê meer as 800-miljoen-rand in Nashville se openbare biblioteek
# Die KwaZulu-Natalse regering gaan met munisipaliteite vergader oor die toepassing van regulasies vir spaza-winkels om te verseker daar word aan die standaarde vir voedselveiligheid voldoen. Dit volg na ’n voorval van vermeende voedselbesmetting verlede maand in uMzumbe, wat gelei het tot die dood van drie kinders, terwyl hulle ouma in die hospitaal opgeneem is. Premier Thamsanqa Ntuli het aan die media gesê blits-inspeksies sal uitgevoer word om onwettige bedrywighede hok te slaan en die veiligheid van produkte wat verkoop word, te verbeter:
# Die Vereniging van Staatsamptenare doen ‘n beroep op die Suid-Afrikaanse Reserwebank om volgende Donderdag op sy Monetêre Beleidskomiteevergadering die terugkoopkoers met 50 basispunte te verlaag. Inflasie het tot 3,8-persent gedaal en die vakbond meen dit is tyd vir die bank om broodnodige verligting te bied aan die werkersklas, wat worstel met hoë lewenskoste. Claude Naiker van die vereniging sê ‘n groter koersverlaging sal help om finansiële druk te verminder, sal besteding ‘n hupstoot gee en werkskepping bevorder.
# Die voorsitter van die Parlement se staande komitee oor Openbare Rekeninge, Songezo Zibi, is besorg oor vertragings met die agtergrondondersoeke na senior regeringsamptenare, ondanks verbeterings. Hy het tydens ‘n inligtingsvergadering erken die huidige proses sukkel met ‘n agterstand, ʼn tekort aan hulpbronne en vakante poste, en bevestig nie alle senior amptenare word ondersoek voor hulle in kritieke poste begin werk nie. Daar word gepoog om die stelsel te verbeter, maar Zibi beklemtoon die behoefte aan strenger toesig:
# Rugby: Die Springbokke se opdrafspan teen Engeland toon 12 veranderings aan die span wat Skotland verlede naweek 32-15 geklop het. Slegs Eben Etzebeth, Ox Nché en Bongi Mbonambi bly oor. Die Bulle-stut Wilco Louw sluit aan by RG Snyman en die losvoorspelers Siya Kolisi, Pieter-Steph du Toit en Jasper Wiese in die beginspan. Grant Williams en Manie Libbok is die skakelpaar, en Cheslin Kolbe, Kurt-Lee Arendse, Damian de Allende, Jesse Kriel en Aphelele Fassi is ook deel van die nuwe agterlyn. Daar is vyf voorspelers en drie agterspelers op die bank.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-36-sent teen die dollar, 19-rand-29-sent teen die euro en 23-rand-21-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 91-duisend-98-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-546-dollar-38-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 72-dollar-62-sent per vat.
# En ten slotte: Die legendariese sangeres, Dolly Parton, se Dollywood-stigting het meer as 800-miljoen-rand in die Nashville-openbare biblioteek belê om sy nuwe vroeë-geletterdheidprogram, Begin Bright, ʼn hupstoot te gee. Die program sal help dat elke kind in die Amerikaanse stad op ʼn vroeë ouderdom begin lees. Volgens die biblioteek-stigting is hierdie belegging die belangrikste skenking in sy geskiedenis van 27 jaar. Parton sê sy hoop die program sal ʼn groot bydrae lewer om ʼn liefde vir lees by kinders en gesinne te vestig.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….