Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 13 November 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die regering publiseer ‘n verordening om voedselveiligheid te verbeter
# Die Gautengse Onderwysdepartement stel die bevordering van onderwysers uit tot April
# En, sokker: Die hoofafrigter en hulpafrigters van Kanada se vrouespan word afgedank oor die hommeltuig-skandaal op die Olimpiese Spele
# Die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, het aangekondig die regering het ‘n nuwe konsepverordening gepubliseer om township-ekonomieë te reguleer en voedselveiligheid te verbeter. Dit volg ná die dood van kinders in verskeie provinsies weens voedselverwante siektes. Dit sluit in ses kinders wat in Naledi, Soweto, dood is nadat hulle versnaperinge geëet het wat met die hoogs giftige chemiese organofosfaat, Terbufos, besmet was. Ntshavheni het op ‘n nuuskonferensie gesê die verordening stel duidelike standaarde vir township-ondernemings en verseker beter voedselveiligheid en aanspreeklikheid:
# Gauteng se LUR vir Onderwys het die bevordering van onderwysers tot departementshoofde, adjunkhoofde en hoofde tot April uitgestel. Dit word aan begrotingsbeperkings toegeskryf. Die Wes-Kaap, die Oos-Kaap en KwaZulu-Natal ondervind soortgelyke uitdagings met befondsing. Die hoof van die Gautengse Onderwysdepartement, Rufus Mmutlana, het aan News24 gesê die beperkings het ‘n beduidende uitwerking op die departement se begroting vir die vergoeding van sy werknemers en sy vermoë om in die 2024/’25-boekjaar nuwe personeel aan te stel.
# ActionSA verwelkom die uiters belangrike Schippers-uitspraak deur die Appèlhof, wat die regering nou die mag gee om fondse terug te eis wat weens misbruik van die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur, die Wet op Openbare Finansiële Bestuur en regulasies oor die Bestuur van die Aanbodketting gesteel is. Matthew George van ActionSA sê hierdie belangrike uitspraak is ‘n deurslaggewende stap om diegene wat betrokke was by staatskaping en die uitgebreide korrupsie die afgelope 14 jaar tot verantwoording te roep:
# Rusland het Israel gevra om nie lugaanvalle uit te voer naby een van Moskou se basisse in Sirië as deel van sy oorlog teen Hizbollah in Libanon nie. Siriese staatsmedia het middel-Oktober beweer Israel het die hawestad Latakia getref, ‘n vesting van president Bashar al-Assad, wat deur Rusland ondersteun word en op sy beurt weer Hizbollah steun. Latakia, en veral sy lughawe, is naby die dorp Hmeimim waar daar ‘n Russiese Lugmagbasis is. Israel beskuldig Hizbollah dat hy wapens deur Sirië vervoer.
# Sokker: Die Kanadese beheerliggaam het bekendgemaak die afrigter van die nasionale vrouespan, Bev Priestman, en haar twee hulpafrigters gaan nie hulle rolle hervat na die hommeltuig-skandaal gedurende die Olimpiese Spele in Parys nie. Kanada Sokker het ‘n verslag vrygestel oor die ondersoek na die gebruik van ʼn hommeltuig om Nieu-Seeland se geslote oefeninge te verfilm voor die wedstryd tussen die twee lande. Die wêreldbeheerliggaam, Fifa, het Priestman, Jasmine Mander en Joey Lombardi vir ʼn jaar geskors. Die soektog na ʼn nuwe hoofafrigter begin binnekort.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-1-sent teen die dollar, 19-rand-12-sent teen die euro en 22-rand-95-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 87-duisend-985-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-609-dollar-75-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 68-dollar-64-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….