Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 7 November 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Politieke partye is bekommerd oor reddingsboeie vir staatsondernemings
# Die Wes-Kaapse Onderwysdepartement is ingenome met die gladde verloop van die matriekeksamen
# En, rugby: Jean Kleyn sluit aan by die Bokke terwyl Ruan Nortjé huiswaarts keer weens ‘n besering
# Politieke partye het kommer uitgespreek oor die reddingsboeie vir staatsondernemings. Hulle is tydens ‘n debat in die Parlement beskryf as finansiële sinkgate wat geld wegneem van dienste soos onderwys, gesondheid en die polisie. Partye soos die DA, die Vryheidsfront Plus en die Inkatha Vryheidsparty stem saam te veel van hulle is ondoeltreffend en werk teen ‘n verlies. Virgill Gericke van die EFF sê die instellings word nie behoorlik bestuur nie:
# Die Wes-Kaapse Onderwysdepartement verwelkom die gladde verloop van die eerste helfte van matriek-eindeksamen sonder enige groot probleme. Die LUR vir Onderwys, David Maynier, sê nege voorvalle van kullery met fone en aantekeninge is aangemeld en hy het kandidate opnuut herinner aan die streng reëls. Geen uitgelekte eksamenvraestel is tot dusver opgemerk nie en Maynier moedig leerders aan om enige lekkasie aan te meld:
Die Departement van Basiese Onderwys tree intussen beslissend op ter wille van die veiligheid van leerders na onlangse gevalle van geweld. Minister Siviwe Gwarube veroordeel die onlangse geslagsgeweld in die dorp Mqhekezweni in die Oos-Kaap waartydens vyf matriek-leerders glo verkrag is. Volgens Gwarube bied die departement ondersteuning aan die slagoffers en werk saam met die polisie om geregtigheid te verseker:
# Die Spaanse polisie het beslag gelê op 13-ton kokaïen, die land se grootste vonds nog, en een persoon in hegtenis geneem. Die polisie en doeanebeamptes het die kokaïen in die suidelike hawe Algeciras onderskep op ‘n houerskip wat van Ecuador gekom het. Die skip was gelaai met kratte piesangs bo-op bokse met die versteekte kokaïen. Spanje is ‘n belangrike toegangspoort vir dwelms na Europa vanweë sy noue bande met voormalige kolonies in Latyns-Amerika en sy nabyheid aan ‘n voorste daggaprodusent, Marokko.
# Rugby: Die Wêreldbeker-wenner, die slot Jean Kleyn, sluit in Edinburgh by die Springbokke aan as plaasvervanger vir Ruan Nortjé, wat gister tydens oefening sy been beseer het. Die 31-jarge Kleyn, wat verlede jaar sy sewende toets vir die Springbokke in die Wêreldbeker-eindstryd teen Nieu-Seeland in Frankryk gespeel het, maak die eerste keer hierdie seisoen sy terugkeer na die nasionale span. Nortjé het beïndruk toe die Bokke vanjaar die Rugbykampioenskap ingepalm het. Afrigter Rassie Erasmus kondig sy wedstrydgroep vir die toets teen Skotland môre aan.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-48-sent teen die dollar, 18-rand-79-sent teen die euro en 22-rand-55-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 75-duisend-26-dollar-79-sent. Die prys van goud is twee-duisend-664-dollar-44-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 74-dollar-22-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….