Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 4 November 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die rand versterk terwyl die dollar verswak voor die Amerikaanse verkiesing
# Brandstofpryse styg Woensdag weens duurder ruolie
# En, krieket: Australië pak Sri Lanka in ‘n toetsreeks in Januarie
# Die rand het vandag teenoor die dollar verstewig tot ‘n hoogtepunt van 17-rand-50-sent, terwyl die Amerikaanse geldeenheid verswak het. Opbrengste van die Amerikaanse Tesourie het met vyf-basispunte verswak. Beleggers berei hulle voor vir dié week se Amerikaanse verkiesing en ʼn waarskynlike rentekoersverlaging deur die Amerikaanse Federale Reserweraad, wat albei wêreldmarkte kan beïnvloed. Meningspeilings toon sterk mededinging tussen die Demokratiese kandidaat, Kamala Harris, en die Republikein, Donald Trump, terwyl die uitslag ʼn wesenlike invloed sal hê op toekomstige neigings ten opsigte van dollar- en effekte-opbrengste.
# Die Departement van Minerale en Petroleumbronne het verhogings in brandstofpryse vanaf Woensdag aangekondig. Die prys van 95- en 93-oktaan-petrol styg met 25-sent per liter, terwyl die prys van standaard diesel met 21-sent sal styg, en diesel met ʼn lae swawelinhoud met 20-sent per liter. Lampolie styg met 21-sent per liter en die maksimum kleinhandelprys vir vloeibare petroleum-gas styg met 36-sent per kilogram. Volgens die departement weerspieël die aanpassings voortgesette wêreldwye spanning en stygende internasionale pryse van Brent-ruolie.
# ‘n Arbeidsregskenner, Michael Bagraim, doen ‘n beroep op die regering om nie die informele sakesektor te oorreguleer nie, ná afloop van die toenemende aantal voedselvergiftigingsgevalle wat veroorsaak word deur kos vanaf spaza-winkels. Hy sê oorregulering sal beslis die informele sektor se vermoë vernietig om deel van die formele sektor te word. Hy sê daar is ongeveer twee-duisend inspekteurs en duisende klein ondernemings in die land:
# Die minister van Menslike Nedersettings, Mmamoloko Kubayi, lei Suid-Afrika se afvaardiging na die 12de beraad van die Wêreld Stedelike Forum wat dié week in die Egiptiese hoofstad, Kaïro, plaasvind. Die tema is: Dit begin tuis. Plaaslike optrede vir volhoubare stede en gemeenskappe. Die ministerie se woordvoerder, Terrence Manase, sê afgevaardigdes van reg oor die wêreld kom byeen om vas te stel hoe verskillende regeringsvlakke beter kan saamwerk om die 2030-agenda vir volhoubare ontwikkelingsdoelwitte te haal:
# Krieket: Australië speel vroeg volgende jaar twee toetse teen Sri Lanka as deel van die Internasionale Krieketraad se Wêreld-toetskampioenskap. Die reeks kan deurslaggewend wees om te bepaal wie dring deur na die eindstryd. Die eerste toets begin op 29 Januarie en die tweede op 6 Februarie. Albei wedstryde sal in die Internasionale Krieketstadion in Galle plaasvind.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-53-sent teen die dollar, 19-rand-12-sent teen die euro en 22-rand-73-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-807-dollar-1-sent. Die prys van goud is twee-duisend-736-dollar-68-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 74-dollar-91-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….