Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 1 November 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa vra vir ‘n beter belyning van prioriteite tussen die nasionale en provinsiale regerings
# Brandstofpryse styg na verwagting vandeesmaand
# En, gholf: Die Gary en Vivienne Player Uitnodigingstoernooi verskuif na Sun City
# President Cyril Ramaphosa sê nasionale en provinsiale regerings moet beter saamwerk. Hy het tydens ‘n vergadering met die uitvoerende raad van Limpopo ‘n nuwe inisiatief vir nouer samewerking bekendgemaak om ontwikkeling en bestuur te verbeter. Ramaphosa moedig provinsies aan om hul sterkpunte in landbou en toerisme te gebruik om groei te bevorder en aandag te gee aan kwessies soos elektrisiteit en watervoorsiening:
# Die Automobiel-Assosiasie waarsku motoriste kan gereed maak vir hoër brandstofpryse volgende week. Huidige data van die Sentrale Energiefonds dui op stygings in alle grade brandstof, met 93-oktaan petrol wat met 14-sent per liter en 95-oktaan petrol wat met 25-sent per liter sal toeneem. Diesel sal na verwagting met sowat 22-sent per liter duurder word, terwyl lampolie met 21-sent per liter sal styg. AA-woordvoerder, Eleanor Mavimbela, raai verbruikers aan om dienooreenkomstig te begroot en hulle brandstofverbruik te monitor:
# Die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika het sedert 2021 opknappingswerk aan 266 van 463 gevandaliseerde spoorwegstasies gedoen, na ernstige plundery en skade. Prasa het meer as 38-miljard-rand ontvang om spoordienste te laat herleef. Volgens woordvoerder Andiswa Makanda is ‘n korridor-vir-korridor-strategie gevolg, wat lyne met ‘n hoë passasiersaanvraag en minimale skade geprioritiseer het. Ten einde pendelaarsveiligheid te verseker, het Prasa stasie- en treinsekuriteit verbeter, danksy vennootskappe met die polisie en verbeterde tegnologie.
# China sê groeiende bande tussen Pjongjang en Moskou het niks met hom te doen nie nadat Amerika gewaarsku het tot agt-duisend Noord-Koreaanse troepe het Rusland se grensstreek bereik, is opgelei en is gereed vir oorlog met Oekraïne. China se Ministerie van Buitelandse Sake sê Noord-Korea en Rusland is twee onafhanklike, soewereine state en hoe hulle bilaterale betrekkinge ontwikkel, is hul eie saak. Die minister van Buitelandse Sake, Antony Blinken, sê volgens Amerikaanse intelligensie is Noord-Koreaanse troepe vermoedelik in Rusland en op pad na die Kursk-grensstreek.
# Gholf: Die Gary en Vivienne Player Uitnodigingstoernooi word volgende naweek die eerste keer op die Gary Player-buiteklub by Sun City in Noordwes gespeel omdat die Lost City se baan nie genoeg reën gekry het nie. Die toernooi spog met ‘n baie sterk span deelnemers, insluitend sportsterre, sakeleiers en bekendes. Gary Player verwag ‘n uitstaande naweek op die skoonvelde van een van die beste bane in Afrika, waar die jaarlikse Nedbank-uitdaagtoernooi vroeg volgende maand plaasvind.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-63-sent teen die dollar, 19-rand-15-sent teen die euro en 22-rand-76-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 69-duisend-891-dollar-80-sent. Die prys van goud is twee-duisend-752-dollar-43-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 72-dollar-55-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….