Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 31 Oktober 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Veelparty-span bekyk betwiste klousules in die BELA-wet
# Die Padvragvereniging sê die minibegroting pak nie uitdagings by hawens aan nie
# En, krieket: Die Proteas klop Bangladesj met ‘n beurt en 273 lopies om die reeks 2-0 te beklink
# ‘n Span bestaande uit verskillende partye is saamgestel om kommer aan te pak oor twee omstrede klousules in die Wysigingswet op Basiese Onderwyswette. Dié besluit is geneem op ‘n vergadering van die regering van nasionale eenheid. Die span sluit in die adjunkminister van Justisie, Andries Nel, Corné Mulder van die Vryheidsfront Plus, Hellen Zille van die DA en Mdumiseni Ntuli van die ANC. Hulle het twee weke om terugvoer te gee, met die fokus op ‘n oplossing wat alle burgers bevoordeel en samewerking bo partypolitieke belange stel.
# Die Padvragvereniging sê daar is geen melding gemaak van enige onmiddellike optrede om die toerusting by hawens te verbeter in die minister van Finansies, Enoch Godongwana, se minibegroting nie. Die vereniging se uitvoerende hoof, Gavin Kelly, sê hierdie situasie verlam bedrywighede. Hy sê daar is ook nie verwys na sleutelinfrastruktuur om te verseker dat grootmaat-gebruiksgoedere per trein vervoer word nie :
# Bosnië se polisie het agt mense in hegtenis geneem in verband met ‘n mensehandel-sindikaat wat minstens een-duisend-400 onwettige migrante na Italië gesmokkel het. Die migrante kom van Pakistan, Afganistan, Indië, Eritreë en China. Die agt is in verskeie dorpe in die land aangekeer tydens ‘n optrede wat uitgevoer is in samewerking met Europol en die polisie van Kroasië, Slowenië en Italië.
# Krieket: Suid-Afrika het Bangladesj in die tweede toets in Chattogram verneder om die reeks 2-0 te beklink. Die gashere moes op die derde oggend opvolg na ‘n eerstebeurt-agterstand van 416 lopies nadat die Proteas gister op 575 vir ses verklaar het. Die paaltjies het weer feitlik onmiddellik begin val en die span is uitgeboul vir slegs 143, wat aan die Proteas ʼn oorwinning met ʼn beurt en 273 lopies besorg het. Keshav Maharaj het vyf paaltjies geneem nadat Kagiso Rabada dieselfde reggekry het in Bangladesj se eerste beurt.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-68-sent teen die dollar, 19-rand-21-sent teen die euro en 22-rand-96-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 72-duisend-244-dollar-52-sent. Die prys van goud is twee-duisend-779-dollar-36-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 72-dollar-11-sent per vat.
# En ten slotte: President Cyril Ramaphosa raai Suid-Afrikaners aan om die waardes van Diwali, soos waarheid, liefde, vrede en geen geweld, te aanvaar om ‘n beter samelewing te bou. Die woordvoerder in die Presidensie, Vincent Magwenya, sê Ramaphosa beskryf die fees van ligte as ‘n voorstelling van die goeie wat oor die bose seëvier. Magwenya moedig almal aan om saam te werk om maatskaplike ongelykhede en uitdagings vir ‘n meer verenigde land aan te pak:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….