Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 28 Oktober 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Suid-Afrikaanse Sionistefederasie veroordeel die regering se aanklagte van volksmoord teen Israel
# Die EFF verwerp die toekenning van visumvrye toegang vir Oekraïnse diplomate
# En, tennis: Jasmine Paolini verbeter tot vierde op die wêreldranglys
# Die Suid-Afrikaanse Sionistefederasie het die Suid-Afrikaanse regering se klagte van volksmoord teen Israel by die Internasionale Geregshof veroordeel. Die federasie sê Israel se verdedigende optrede ná Hamas se aanvalle in Oktober 2023 pas nie by die beskrywing van volksmoord nie, wat verwys na die doelbewuste vernietiging van ‘n groep. Rolene Marks van die federasie doen ‘n beroep op Suid-Afrikaanse politieke partye om geloofwaardige internasionale verhoudings voorop te stel eerder as om outoritêre regimes te ondersteun:
# Die EFF verwerp die aankondiging deur die minister van Binnelandse Sake, Leon Schreiber, dat hy ‘n ooreenkoms onderteken het wat visumvrye toegang tot Suid-Afrika verleen aan houers van diplomatieke, amptelike en dienspaspoorte van Oekraïne. EFF-woordvoerder, Leigh Ann Mathys, sê hierdie ooreenkoms is gewoon ‘n poging om die verhouding met Rusland te ondermyn om sodoende die Euro-Westerse imperialiste en diepgesetelde politieke agenda van die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie ter wille te wees om na die oostelike deel van Rusland uit te brei deur buurlande soos Oekraïne as gevolmagtigde te gebruik.
# ANC-president Cyril Ramaphosa het ‘n nuwe basiskursus vir die politieke opleiding van partylede bekendgestel om hul toewyding en etiek te versterk. Hierdie verpligte kursus sal die party se geskiedenis, beginsels en doelwitte dek en put inspirasie uit oud-ANC-president Oliver Tambo se fokus op onderwys. Ramaphosa sê die kursus sal by alle takke aangebied word om te verseker alle lede is verbind tot die party se waardes en doelwitte:
# Die raad van die Universiteit Stellenbosch hou Vrydag ‘n buitengewone vergadering na aanleiding van die bewering van kanselier Edwin Cameron dat die verslag oor die Wilgenhof-koshuis gewysig is voordat dit aan die raad voorgelê is. Die verslag het aanvanklik ‘n alternatief vir sluiting voorgestel, maar het later aanbeveel die koshuis word gesluit. Visekanselier Wim de Villiers beskryf die verandering as ‘n regstelling van ‘n fout. Die universiteit sê die sluiting gaan voort, as deel van pogings om die instelling en sy koshuise te hervorm.
# Tennis: Jasmine Paolini van Italië het verbeter tot haar beste posisie nog van vierde op die jongste wêreldranglys. Die Amerikaner Danielle Collins, die Rus Anna Kalinskaya en die Spanjaard Paula Badosa het almal hulle posisies verbeter tot onderskeidelik tiende, 11de en 12de. Aryna Sabalenka van Belarus is steeds nommer een, gevolg deur Iga Swiatek van Pole en die Amerikaner Coco Gauff. Elena Rybakina van Kazakstan is vyfde, gevolg deur die Amerikaner Jessica Pegula, Qinwen Zheng van China, Emma Navarro van Amerika en die Rus Daria Kasatkina.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-64-sent teen die dollar, 19-rand-8-sent teen die euro en 22-rand-90-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-532-dollar-79-sent. Die prys van goud is twee-duisend-732-dollar-36-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 75-dollar-91-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….