Nuus 15:00
BULLETIN 12 Augustus 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Solidariteit-beweging, AfriForum en Solidariteit verlaat die Nasionale Dialoog
# Minister Manamela stel ‘n sterk hervormingsplan bekend vir die naskoolse onderwys- en opleidingsektor
# En werkloosheid styg tot 33.2-persent in die tweede kwartaal
# Die Solidariteit-beweging, AfriForum en Solidariteit het onttrek van Vrydag se Nasionale Dialoog. Kallie Kriel van AfriForum sê hul ondersteun wel ware dialoog, maar die huidige formaat het ‘n regeringsgedrewe monoloog geword wat die ANC-agenda dien. Kriel sê daar kan nie op die ANC staatgemaak word om die krisisse wat hy self geskep het op te los nie, daarom sal die groepe eerder gemeenskapsgeleide gesprekke met die burgerlike samelewing en kultuurorganisasies voer:
# Die minister van Hoër Onderwys en Opleiding, Buti Manamela, sê die regering sal ‘n sterk program van stapel stuur om die naskoolse onderwys- en opleidingsektor te hervorm. Die plan fokus op ses hoofdoelwitte en vyf sleutelareas, en begin met projekte soos Vaardighede tot Werkoorskakeling, Loopbaankeuses, en Geletterdheid vir Bemagtiging. Manamela het aan die media gesê die volgende vier jaar sal die fokus op leerplanvernuwing, digitale opvoeding, navorsing en die bou van sterker stelsels wees wat ekonomiese en maatskaplike behoeftes aanpak:
# Statistieke SA het aangekondig dat 140-duisend mense in die tweede kwartaal vanjaar hul werk verloor het. Volgens die Arbeidsmagopname was daar ook ‘n toename van 19-duisend in die aantal mense wat werk. As gevolg van die veranderings in indiensneming en werkloosheid het die amptelike werkloosheidsyfer met 0,3 van ‘n persentasiepunt tot 33,2-persent gestyg. Werksgeleenthede is verloor in Gemeenskaps- en Maatskaplike Dienste, Landbou, Finansies, Vervoer, Nutsdienste en Vervaardiging. Indiensneming in Gauteng en die Oos-Kaap het toegeneem, terwyl afnames in die Wes-Kaap, KwaZulu-Natal en die Noord-Kaap waargeneem is.
Brittanje se werkloosheidsyfer bly intussen op ‘n vierjaar-hoogtepunt. Werksgeleenthede het verminder in ‘n tydperk waarin ‘n belastingverhoging in die Verenigde Koninkryk en nuwe Amerikaanse tariewe in werking getree het. Die Kantoor van Nasionale Statistiek sê werkloosheid was op 4,7-persent vir die drie maande tot einde Junie, onveranderd teenoor die periode van Maart tot Mei. ‘n Verhoging in maatskappybelasting het in April in werking getree en ontleders waarsku dat maatskappye minder mense sal aanstel. Die Amerikaanse president, Donald Trump, se nuwe invoer-tariewe het ook in April in werking getree.
# Gholf: Die Sonskyn-toer en Fortress Real Estate Investments het die prysgeld aansienlik verhoog vir die Fortress-uitnodigingstoernooi wat in Oktober op die Glendower-gholfklub in Gauteng aangebied word. Dis tot 2,5-miljoen-rand aangepas, wat ‘n volle miljoen-rand meer is as toe die toernooi in 2022 die eerste keer aangebied is. Die jaareind-bonus vir die Fortress-“Beginner van die Jaar”-toekenning is verdubbel en vanjaar se wenner stap weg met 400-duisend-rand.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-72-sent teen die dollar, 20-rand-57-sent teen die euro en 23-rand-84-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 118-duisend-385-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-340-dollar-1-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 66-dollar-20-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….