Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 18 Oktober 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA vra duidelikheid oor Suid-Afrika se versoek vir Taiwan om sy kantoor in Pretoria te sluit
# Eugene Modise van die ANC word onbestrede verkies tot onderburgemeester van Tshwane
# En, sokker: Drank gaan dalk op pawiljoene toegelaat word in Engeland se Vlak 2-vrouewedstryde
# Die DA is bekommerd oor Suid-Afrika se eis dat Taiwan se Taipei-skakelkantoor in Pretoria gesluit moet word. Die jare lange ooreenkoms wat Taiwan se handel en verteenwoordiging toelaat, bestaan al 26 jaar. Hoewel hy die land se standpunt oor Een China erken, versoek die DA ‘n duidelike rede vir hierdie onverwagse verandering. DA-woordvoerder, Emma Louise Powell, dring aan dat enige wysigings aan hierdie ooreenkoms deur die regering van nasionale eenheid gesteun word:
# Eugene Modise van die ANC is onbestrede verkies tot nuwe onderburgemeester van Tshwane. Die burgemeesterskomiteelid vir Finansies is die tweede onderburgemeester in die stad se geskiedenis. Sy verkiesing volg op die vakature wat gelaat is met die verkiesing van die voormalige onderburgemeester, Nasiphi Moya van ActionSA, tot burgemeester na die uitsetting van Cilliers Brink van die DA. Modise het in sy aanvaardingstoespraak op ‘n spesiale raadsitting beloof om ‘n vriendelike, veilige en bevorderlike werksomgewing vir alle werknemers te skep:
# Vier mense is nou aangekeer na dié week se moord op ʼn student van die Universiteit Stellenbosch. Jesse Mitchell is Woensdag in die vroeë oggendure, op sy 19de verjaarsdag, beroof en in die nek gesteek terwyl hy per fiets in die Bolandse dorp gery het. Hy was op pad na sy koshuis nadat hy tot middernag saam met sy projekspan gewerk het. Die liggaam van die 19-jarige eerstejaarstudent in Rekenaarwetenskap is in Borcherdstraat gevind. ʼn Go Fund Me-veldtog is begin om die gesin met Mitchell se begrafniskoste by te staan.
# Die Landdroshof in Caledon in die Wes-Kaap gaan die 25ste van die maand die aansoek oorweeg van die jong beskuldigde in die moord op ‘n 16-jarige skoolmeisie om vir sielkundige waarneming gestuur te word. Deveney Nel is in Augustus by die Hoërskool Overberg vermoor, en haar 17-jarige skoolmaat is aangekeer kort nadat hy haar gedenkdiens bygewoon het. Dit het later bekend geword hy is in 2020 beskuldig van die seksuele aanranding op ‘n 11-jarige meisie, maar is nie vervolg nie omdat hy ‘n gebrek aan misdadige vermoë gehad het.
# Sokker: Engeland toets die idee om drank in die pawiljoene toe te laat by Vlak Twee-vrouewedstryde. Reuters berig die verbruik van sterk drank in pawiljoene is in 1985 verbied in die eerste vyf vlakke van manswedstryde weens boewery. Die vrouespel het sedertdien dieselfde reël ingestel vir die eerste twee vlakke. Die uitvoerende hoof van die Vroue-beroepsligas, Nikki Doucet, sê die gedrag van vroue-ondersteuners is anders en hulle wil toeskouers keuses gee sonder om veiligheid en verantwoordelikheid in te boet.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-56-sent teen die dollar, 19-rand-5-sent teen die euro en 22-rand-92-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-861-dollar-25-sent. Die prys van goud is twee-duisend-712-dollar-70-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 74-dollar-10-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….