Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 14 Oktober 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die SOE gaan ondersoek instel na 19 kontrakte van die Oos-Kaapse Gesondheidsdepartement
# ActionSA eis ‘n ondersoek na meer as vier-miljoen-rand wat bestee is aan die Helen Joseph-vrouehostel
# En ‘n besige hoofweg in Pretoria word gesluit nadat ‘n diesel-tenkwa aan die brand slaan
# Die Spesiale Ondersoekeenheid gaan ondersoek instel na 19 kontrakte wat die Oos-Kaapse Gesondheidsdepartement toegeken het, nadat president Cyril Ramaphosa dit gemagtig het. Dit sal kyk na moontlike oortredings in voorsieningskettingbestuur tussen Augustus 2022 en hierdie maand, insluitend onreëlmatighede in tenders vir vleisvoorsiening. Die SOE poog om bedrog en wanadministrasie te ontbloot. Dit volg ná ‘n onlangse inbraak by die departement se kantore waarin kritieke verkrygingsdokumente gesteel is en wat kommer wek oor korrupsie.
# ActionSA in Johannesburg vra ‘n dringende ondersoek na die dak- en plafon-installering by die Helen Joseph-vrouehostel in Alexandra. Die metro se departement Menslike Nedersetting sê hy het meer as vier-miljoen-rand aan die installering bestee. Omphemetse Matabane van ActionSA sê die werk wat by die gerief gedoen is weerspieël nie die bedrag was bestee is aan die projek nie en daar is vermiste inligting op die faktuur:
# Slegs een geval van afpersing is sedert September verlede jaar by die Wes-Kaapse polisie se afpersing-blitslyn aangemeld. Dit was die antwoord op ‘n parlementêre vraag van die DA-lid, Thomas Walters. Verlede week is 12 mense, wat polisiebeamptes insluit, in Kaapstad in hegtenis geneem in verband met afpersingsmisdade by sakeondernemings in buitelanders se besit. Walters sê dis duidelik dat afpersing nie hanteer sal word voor die polisiediens sy reaksie op die kwessie hersien nie:
# Die N4-hoofweg in Pretoria is gesluit en verkeer word na ander roetes herlei nadat ‘n dieseltenkwa met 38-duisend liter brandstof aan die brand geslaan het. Die Stad Tshwane se nooddienste is op die toneel net voor die M17 in Pretoria-Noord. Verskeie brandbestrydingsdienste is ontplooi. Geen beserings is aangemeld nie.
# Rugby: Die voormalige senter van Wallis en die Britse en Ierse Leeus, Jonathan Davies, het sy tokse opgehang. Die 36-jarige het sedert 2009 in 96 toetse vir sy land gespeel en 80 punte aangeteken, en die Leeus in 2013 en ’17 in ses toerwedstryde verteenwoordig. Hy het ook in twee skofte altesaam 179 keer vir Scarlets gespeel en 253 punte bygedra. Davies sê hy sal die kameraadskap van sy spanmaats mis, maar dit het tyd geword om die gordyn te laat sak op ʼn loopbaan waarop hy ontsettend trots is.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-54-sent teen die dollar, 19-rand-15-sent teen die euro en 22-rand-88-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-922-dollar-49-sent. Die prys van goud is twee-duisend-654-dollar-18-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 77-dollar-14-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….