Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 8 Oktober 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Parlement se derde termyn fokus op toesighouding- en ouditverslae
# Ramaphosa bekragtig die Wysigingswetsontwerp op Gemeenskaplike Eiendomsverenigings
# En ‘n Amerikaner en ‘n Kanadees is die gesamentlike wenners van die Nobelprys vir Fisika
# Die Parlement se derde en laaste termyn van die jaar het hierdie week begin. Komitees sal na verwagting die Ouditeur-Generaal se oudituitkomste oor twee weke hersien. Die staande komitee oor Openbare Rekeninge sal toesigbesoeke doen by Eskom en PRASA. SKOOR se voorsitter, Songezo Zibi, het bevestig dat ‘n besoek aan die Medupi-kragstasie in Limpopo vandag plaasvind, asook vergaderings met Eskom se bestuur oor bestuurs-, bedryfs- en finansiële prestasie-bywerkings:
# President Cyril Ramaphosa het die Wysigingswetsontwerp op Gemeenskaplike Eiendomsverenigings onderteken. Dit verleen beskerming aan gemeenskappe binne gemeenskaplike eiendomsverenigings. Die wetsontwerp wysig die wet van 1996 en vestig ‘n kantoor van Gemeenskaplike Eiendomsverenigings asook ʼn registrateur en bring ook duidelikheid oor grondeienaarskap vir inwoners. Die Presidensie se woordvoerder, Vincent Magwenya, sê dis ook gerig op magsmisbruik in verenigingskomitees en beperkte regeringstoesig, met die doel om grondregte vir gemeenskappe te versterk:
# AfriForum het herhaal gemeenskapsbetrokkenheid is belangrik om munisipale skuld van 21-miljard-rand aan waterrade aan te pak. Dit volg nadat minister Pemmy Majodina in ‘n verslag aan die Parlement, die Departement van Water en Sanitasie se uitdagings met onbetaalde munisipale rekenings uiteengesit het. Lambert de Klerk van AfriForum het die noodsaaklikheid van openbare-private vennootskappe beklemtoon om munisipale dienste te bestuur en skuld te verminder. Hy stel samewerkende oplossings tussen gemeenskappe, die privaat sektor en die regering voor.
# Sokker: Die Italiaanse doelskieter, Marco Curto, gaan sy volgende vyf wedstryde misloop. Hy is vir tien wedstryde geskors omdat hy die Suid-Koreaanse voorspeler Hwang Hee-can beledig het toe sy klub, Como, in Julie in ’n voorseisoense vriendskaplike wedstryd teen Wolverhampton Wanderers gespeel het. Die helfte van die straf is vir twee jaar opgeskort. Curto word tans deur die Serie B-klub, Cesena, geleen. Volgens FIFA moet hy gemeenskapsdiens verrig en opleiding en onderrig ondergaan by ʼn organisasie wat die wêreld-beheerliggaam goedkeur.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-45-sent teen die dollar, 19-rand-17-sent teen die euro en 22-rand-86-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-510-dollar-42-sent. Die prys van goud is twee-duisend-647-dollar-25-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 79-dollar-49-sent per vat.
# En ten slotte: Die Koninklike Sweedse Akademie vir Wetenskappe het die Nobelprys vir Fisika vir 2024 aan John Hopfield van Amerika en Geoffrey Hinton van Kanada toegeken vir hulle werk met kunsmatige neurale netwerke. Hopfield het ʼn netwerk geskep wat patrone in data skep en berg, terwyl Hinton metodes vir masjiene geskep het om patrone op hulle eie te leer en te herken. Hinton het op ʼn nuuskonferensie gesê hulle navorsing het kunsmatige intelligensie grootliks bevorder met toepassings in beeldherkenning en nuwe materiaalontwikkeling:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….