Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 7 Oktober 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Suid-Afrikaanse Joodse gemeenskap herdenk een jaar sedert die Hamas-aanvalle op Israel
# Die TERS-begroting word tot 2,4-miljard-rand uitgebrei ter ondersteuning van ondernemings in nood
# En, tennis: Aryna Sabalenka mik na wêreld nommer een en ‘n driekuns in Wuhan
# Die Joodse gemeenskap in Suid-Afrika herdenk vandag een jaar sedert Hamas se aanvalle op Israel wat die lewens van een-duisend-200 mense geëis het. Israel se weerwraakaanvalle het tot die dood van tienduisende Palestyne gelei. Die direkteur van die Suid-Afrikaanse Joodse Raad van Afgevaardigdes, Wendy Khan, het op die Gyselaarsplein in Houghton, Johannesburg, aan die SABC gesê die konflik is ‘n onnodige oorlog:
# Die Departement van Indiensneming en Arbeid het die begroting vir die tydelike werkgewer-werknemer-verligtingskema verhoog vanaf 400-miljoen- tot 2,4-miljard-rand. Hierdie befondsing het ten doel om afleggings te voorkom en sukkelende ondernemings te ondersteun. Minister Nomakhosazana Meth het ondernemings wat finansiële probleme ondervind aangemoedig om aansoek te doen vir TERS, wat ‘n salarisondersteuning van tot 12-maande bied. Die toename is weens aansienlike werkverliese in sektore soos mynbou, vervaardiging en telekommunikasie.
# Twee Chinese burgers is dood en minstens tien mense gewond in ‘n vermeende selfdood-aanval naby die Karatsji-lughawe in Pakistan. Volgens die BBC is ‘n derde ongeïdentifiseerde liggaam vermoedelik dié van die aanvaller. Die Chinese ambassade in Pakistan beskryf die ontploffing as ‘n terreuraanval op ‘n konvooi Chinese ingenieurs wat aan ‘n kragprojek in die Sindh-provinsie werk. Die separatistiese Balochistan Bevrydingsleër het aanspreeklikheid vir die aanval aanvaar. Die groep is een van verskeie etniese groepe wat vir ‘n afsonderlike tuisland veg.
# Tennis: Aryna Sabalenka van Belarus se doelwit is om die wêreld nommer een-posisie te herwin. Sy kan die gaping met Iga Swiatek van Pole vernou met ‘n goeie vertoning op die Wuhan Ope, wat weer gespeel word na ‘n afwesigheid van vyf jaar. Sabalenka is die top-gekeurde in die Chinese stad in die afwesigheid van Swiatek, wat aan die toernooi onttrek het nadat sy haar afrigter, Tomasz Wiktorowski, afgedank het. Sabalenka het verlede maand op die Amerikaanse Ope die derde Grand Slam-titel van haar loopbaan ingepalm.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-37-sent teen die dollar, 19-rand-6-sent teen die euro en 22-rand-71-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-835-dollar-77-sent. Die prys van goud is twee-duisend-657-dollar-40-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 79-dollar-79-sent per vat.
# En ten slotte: 2024 se Nobelprys vir Fisiologie of Medisyne is toegeken aan twee Amerikaanse wetenskaplikes, Victor Ambros en Gary Ruykun, vir die ontdekking van mikroRNA en sy rol in die regulering van geen-aktiwiteit. Hulle navorsing toon verskillende seltipes kan bepaalde funksies verrig selfs met dieselfde genetiese inligting. Die belangrike ontdekking is gegrond op die rondewurm C. elegans. ‘n Woordvoerder van die Nobelraad, Olle Kämpe, sê hierdie ontdekking is belangrik om siektes soos kanker en diabetes te verstaan:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….