Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 4 Oktober 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die MK-party se advokaat waarsku om John Hlophe van die regtersonderhoude uit te sluit, is moontlik ongrondwetlik
# Melania Trump se siening oor aborsie is regstreeks in stryd met haar man s’n
# En, rugby: Ben-Jason Dixon is in die Stormers se beginspan teen Zebre Parma
# Die advokaat van die MK-party, Dali Mpofu, waarsku die uitsluiting van afgedankte regter John Hlophe van die Regterlike Dienskommissie se regtersonderhoude, kan ongrondwetlike uitkomste hê. Die party doen aansoek om ‘n dringende interdik by die Hooggeregshof in Johannesburg om te verhinder die RDK vergader volgende week. Die kommissie weier om hulle werksaamhede uit te stel en voer aan Hlophe se afwesigheid sal nie hulle werk beïnvloed nie. Mpofu meen die RDK kan nie met sy program voortgaan voor regskwessies opgelos is nie:
# Die African Transformation Movement verwelkom die besluit van die Konstitusionele Hof om die Parlement se hantering van die Phala Phala-saak te hersien. Volgens die party het die Parlement versuim om ernstige aantygings teen president Cyril Ramaphosa te ondersoek na die diefstal op sy plaas in Limpopo. Dit sluit sy besluit in om dit eerder by sy sekerheidspan aan te meld in plaas van by die polisie. ATM se woordvoerder, Zama Ntshona, vertrou die hof sal verseker Ramaphosa word aanspreeklik gehou:
# Die voormalige Amerikaanse presidentsvrou, Melania Trump, sê sy glo daar is geen ruimte vir toegewings as dit ‘n vrou se individuele vryheid betrek nie. The Guardian het uittreksels uit haar komende boek gepubliseer, waarin sy sê sy ondersteun aborsieregte, sonder enige ingryping of druk van die regering. Haar verdediging van aborsieregte is die teenoorgestelde van haar man se posisie, ongeveer ‘n maand voor verkiesingsdag. Oudpresident Donald Trump het herhaaldelik gesê hy sal ‘n federale aborsieverbod veto en die kwessie moet aan die state oorgelaat word om te reguleer.
# Rugby: Die Springbok-losvoorspeler Ben-Jason Dixon is in die Stormers se opdrafspan ingesluit vir môre se Verenigde Rugbykampioenskaps-wedstryd teen Zebre Parma. Hy begin op steelkantflank vir die wedstryd teen die Italianers, wat 8.35 afskop. Die stut Sazi Sandi, die skrumskakel Dewaldt Duvenage en die heelagter Warrick Gelant kan almal die eerste keer dié seisoen vir die Stormers speel. Hulle is op die bank gekies saam met die losvoorspeler Louw Nel, wat sy buiging vir die span sal maak as hy opdraf.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-45-sent teen die dollar, 19-rand-25-sent teen die euro en 22-rand-99-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 61-duisend-424-dollar-68-sent. Die prys van goud is twee-duisend-658-dollar-71-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 78-dollar-70-sent per vat.
# En ten slotte: Suid-Afrikaners word aangemoedig om hulle steun te bied vir die geraamde 19-duisend Oekraïense kinders wat Rusland gewelddadig gedeporteer het sedert sy inval. Die Bring Kids Back UA-taakspan het ‘n aanlyn versoekskrif saamgestel waarin die internasionale gemeenskap versoek word om die ontvoerings te veroordeel, die kinders se terugkeer te eis en wêreldwye toegang te verseker tot geriewe waar hulle aangehou word. Die taakspan sê dit strook met Suid-Afrika se menseregte-nalatenskap wat burgers toelaat om hierdie skendings teen te staan.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….