Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 27 September 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC se Argiefkomitee beloof die repatriasiepogings vir vryheidshelde sal voortgaan
# Die DA bekom ‘n interdik teen John Hlophe se deelname aan die Regterlike Dienskommissie
# En, krieket: Dwayne Bravo van die Windies tree uit en sluit by Kolkata Knight Riders aan as mentor
# Die ANC se Argiefkomitee sê repatriasiepogings sal voortgaan om Suid-Afrika se vryheidshelde te vereer. Die oorskot van 42 vryheidsvegters het hierdie week na Suid-Afrika teruggekeer as deel van ‘n projek vir die Weerstands- en Bevrydings-erfenisroete. Dit vorm ook deel van Erfenismaand-vieringe. ‘n Komiteelid, Obed Bapela, sê die projek ervaar uitdagings in sommige lande, maar pogings om die helde huis toe te bring, duur voort:
# Die DA verwelkom die uitspraak van die Wes-Kaapse Hooggeregshof wat ‘n dringende interdik toegestaan het om die MK-party se parlementêre leier, John Hlophe, te verbied om deel te wees van die Regterlike Dienskommissie. Die DA se nasionale woordvoerder, Karabo Khakhau, is verheug oor die uitspraak en beskryf dit as ʼn oorwinning vir regterlike integriteit. Sy sê dit versterk Suid-Afrika se verbintenis om ʼn onafhanklike en etiese regbank te handhaaf:
# Suid-Afrika se skenker-befondsde klimaatsplan van 199-miljard-rand het 32-miljard-rand bestee aan die kragnetwerk en voorkom agteruitgang van die steenkoolstreek met die oorgang na hernubares. Die befondsing kom van lande soos Brittanje, Frankryk en Duitsland. Die oorblywende befondsing sal na verwagting belê word in ʼn beplande groenwaterstofsentrum en vaardigheidsopleiding. Ten spyte van verbeterings met hervormings, insluitend die oopstelling van Eskom se monopolie, word die stadige oorgang gekenmerk deur interne politiek en kommer oor steenkoolwerksverliese.
# Krieket: Die voormalige veelsydige Windie-speler, Dwayne Bravo, het sy uittrede uit die beroepspel aangekondig na 21 jaar. Sy afskeidsveldtog in die Karibiese Premierliga is vroeër die week kortgeknip weens ‘n liesbesering. Die 40-jarige tree uit nadat hy die meeste paaltjies in die T20-formaat laat kantel het, naamlik 631 in 582 wedstryde. Bravo het hom by die verdedigende kampioen van die Indiese Premierliga, Kolkata Knight Riders, aangesluit as mentor vir volgende jaar se seisoen.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-15-sent teen die dollar, 19-rand-15-sent teen die euro en 22-rand-96-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-557-dollar-48-sent. Die prys van goud is twee-duisend-666-dollar-93-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 71-dollar-24-sent per vat.
# En ten slotte: Die vervaardiging van ‘n dokumentêre program in verskeie episodes oor die lewe en loopbaan van die sangeres, aktrise, regisseur en vervaardiger, Barbra Streisand, het begin. Die dokumentêr sluit in honderde ure van persoonlike videos wat nog nie voorheen uitgegee is nie, asook foto’s, klankopnames en persoonlike aandenkings van haar roemryke loopbaan. Streisand sê sy het jare lank gedink oor die beste manier om die omvangryke inhoud te deel wat sy veilig in ‘n kluis bewaar het. Sy het verlede jaar haar memoir van 970-bladsye getiteld My Name is Barbra bekendgestel.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….