Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 26 September 3 nm
Goeiemiddag. Ek is…….
In die bulletin:
# Markus Jooste se voormalige vennoot pleit skuldig aan Steinhoff-binnehandel
# Die Gautengse regering kan teen volgende jaar bankrot wees
# En, rugby: Die beseerde Marika Koroibete en James Slipper loop die Wallabies se laaste Rugbykampioenskapstoets mis
# ‘n Vriend van die voormalige uitvoerende hoof van Steinhoff, Markus Jooste, het skuldig gepleit aan binnehandel omdat hy voor die maatskappy se ineenstorting meer as 39-duisend aandele verkoop het. Die 89-jarige Gerhard Burger het skuldig gepleit op drie aanklagte van binnehandel en is tot vyf jaar gevangenisstraf gevonnis, wat opgeskort is vir vyf jaar. Jooste het Burger in 2017 in stemboodskappe aangeraai om sy aandele te verkoop. Die saak volg nadat Steinhoff se regshoof, Stéhan Grobler, in Maart aangekeer is op aanklag van bedrog en rampokkery.
# Die Gautengse LUR vir Finansies, Lebogang Maile, waarsku die provinsiale regering kan teen 2025 bankrot wees indien die sukkelende Gesondheidsdepartement nie reggeruk word nie. Die departement se skuld kan dan ses-miljard-rand beloop. Dit is die enigste een wat nie aan nakomingsvereistes voldoen nie. Maile het bekendgemaak die departement se regskoste beloop 18-miljard-rand. Hy sê belangrike veranderings is noodsaaklik om ʼn finansiële krisis te vermy:
Die Gautengse LUR vir Gesondheid, Nomantu Nkomo-Ralehoko, het intussen bekend gemaak 3,9-miljoen-rand is aan sewe Kubaanse dokters betaal wat uit Suid-Afrika vertrek het om na hulle land terug te keer. Die DA-lid, Jack Bloom, sê 28 Kubaanse dokters is op ‘n een-jaar-kontrak aangestel om tydens die Covid-19-pandemie te help. Hy sê die kontrakte vir sewe van hulle is onreëlmatig verleng met nog ‘n jaar:
# Die organisasie sonder winsbejag, Recycling and Economic Development Initiative of South Africa, het die Hooggeregshof in Pretoria genader oor regstappe teen die regering se afvalbuiteband-bestuursplan. Redisa beweer die plan bedreig omgewings- en ekonomiese bestendigheid, ten opsigte van onrealistiese teikens, gebrekkige prosedures en verlore herwinningsgeleenthede. Die uitvoerende hoof, Hermann Erdmann, waarsku oor rampspoedige gevolge indien dit ingestel word, veral in die lig van die ekonomiese potensiaal van afval-buitebande. Hy beklemtoon ook Redisa se vorige rol in die bestuur van afval, die skep van werksgeleenthede, en die vermindering van uitstralings.
# Rugby: Die voorslagvleuel van die Wallabies, Marika Koroibete, en die veteraanstut, James Slipper, is beseer en sal Saterdag se Rugbykampioenskapstoets teen Nieu-Seeland in Wellington misloop. Koroibete het sy pols beseer en Slipper het harsingskudding. Die skrumskakel Nic White is uit afrigter Joe Schmidt se wedstrydgroep weggelaat en word vervang deur Jake Gordon, met Tate McDermott op die bank. Australië kon in vanjaar se kompetisie nog net teen Argentinië wen en is laaste op die punteleer.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-18-sent teen die dollar, 19-rand-16-sent teen die euro en 22-rand-99-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-435-dollar-79-sent. Die prys van goud is twee-duisend-679-dollar-67-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 73-dollar-71-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….