Nuus 15:00
BULLETIN 8 Augustus 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die nuwe SAL-raad is aangestel om vlootuitbreiding en bestuur te versterk
# Die Hooggeregshof beslis oudpresident Lungu se liggaam moet terugbesorg word aan Zambië vir ‘n staatsbegrafnis
# En tennis: Sinner is uitgerus vir die verdediging van sy titel in Cincinnati
# Die minister van Vervoer, Barbara Creecy, sê ‘n voormalige werknemer van die Suid-Afrikaanse Lugdiens en geoktrooieerde rekenmeester, Sedzani Mudau, is aangestel as nuwe voorsitter van die SAL-raad. Die raad sal fokus op die uitbreiding van die vloot van 20 tot meer as 50 vliegtuie teen 2030, die versterking van bestuur en die behoud van finansiële onafhanklikheid. Creecy het die tussentydse raad geloof wat die redery gelei het van sakeredding in 2021 tot waar dit nou 17 roetes bedryf, insluitende drie internasionale roetes:
# LegalAid South Africa het die verdediging se regsverteenwoordigers in die Senzo Meyiwa-moordverhoor gewaarsku dat aansoeke om ontslag min vooruitsigte op sukses het, en het geweier om hulle te befonds. Drie van die vier regspanne beplan egter om voort te gaan terwyl vier van die beskuldigdes die Hooggeregshof in Pretoria verwittig het dat hulle aansoek wil doen vir ontslag na die staat sy saak in Julie gesluit het. Betooghoofde moet teen 25 Augustus ingedien word. Die voormalige sokkerspeler is in 2014 in Gauteng vermoor.
# Die Oos-Kaapse LUR vir Gemeenskapsveiligheid, Xolile Nqatha, sê die moord op die aanklaer Tracy Brown is ‘n terugslag vir die regstelsel. Nqatha het tydens Brown se gedenkdiens die moorde op aanklaers wat geregtigheid vir slagoffers nastreef, veroordeel en bepleit geregtigheid. Brown is voor haar huis in Gqeberha doodgeskiet en word Saterdag begrawe. Nqatha vra aanklaers om met waardigheid en sonder vrees, begunstiging of vooroordeel aan te hou dien:
# Die Hooggeregshof in Pretoria het beslis die oorskot van die gewese Zambiese president, Edgar Lungu, moet gerepatrieer word vir ‘n staatsbegrafnis. Dit beëindig ‘n regsgeding tussen die Zambiese regering en sy familie, wat hom in Johannesburg wou begrawe. Lungu is twee maande gelede dood toe hy behandeling in Suid-Afrika ontvang het. Die adjunk-regterpresident, Aubrey Ledwaba, handhaaf Zambië se reg om Lungu te vereer en sê openbare belang weeg swaarder as persoonlike wense:
# Tennis: Die wêreld-nommer-een, Jannik Sinner, glo dit was die regte besluit om ‘n lang ruskans te neem nadat hy Wimbledon verlede maand gewen het. Hy het aan die Kanadese Ope onttrek en gaan sy titel in Cincinnati verdedig voor die Amerikaanse Ope in New York, waar hy ook die verdedigende kampioen is. Die 23-jarige Italianer sê sy liggaam en gees moes herstel en dit was goed om weer saam met geliefdes te kuier. Hy speel sy eerste wedstryd in Cincinnati waarskynlik môre ná ‘n loslootjie in die eerste ronde.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-72-sent teen die dollar, 20-rand-63-sent teen die euro en 23-rand-82-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 116-duisend-829-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-381-dollar-89-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 66-dollar-58-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….