Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 20 September 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Beskuldigde in miljard-rand Kaapstad-tenderbedrogsaak doodgeskiet
# Die Kabinet waarsku oor moontlike bankrotskap vir waterrade weens onbetaalde skuld
# En, sokker: Die Sundowns-afrigter wil hê plaaslike oordragsyfers moet openbaar gemaak word
# Die vierde beskuldigde in die behuisingstender-bedrogsaak van een-miljard-rand waarby die voormalige Kaapstadse burgemeesterskomiteelid vir Behuising, Malusi Booi, betrokke is, is in Beacon Valley, Mitchells Plain, doodgeskiet. Polisiewoordvoerder, Malcolm Pojie, het aan Newzroom Afrika gesê dat Abdul Kader Davids, sedert Dinsdag uit was op borgtog van 250-duisend-rand. Volgens hom is geen verdagtes in hegtenis geneem nie:
# Die Kabinet het gewaarsku dat verskeie waterrade insluitend die Vaal Sentrale Water- en Magalies Waterrade moontlike bankrotskap in die gesig staar weens groot onbetaalde skuld deur munisipaliteite. Die finansiële druk op waterrade kan dienslewering en die instandhouding van infrastruktuur bedreig. Die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, het aan die media gesê die Kabinet het munisipaliteite versoek om hul uitstaande betalings stiptelik te vereffen ten einde verdere risiko’s vir waterdienste te vermy:
# Die vakbond vir onderwys-, gesondheid- en verwante werkers, Nehawu, vra president Cyril Ramaphosa om die Wet op Nasionale Gesondheidsversekering in werking te stel. Die vakbond se woordvoerder, Lwazi Nkolonzi, sê Nehawu doen ‘n beroep op Ramaphosa om hom nie deur beginsellose ingrypings te laat beïnvloed nie, soos dié van Business Unity South Africa, wat in wese teen die NGV gekant is:
# Sokker: Die afrigter van Mamelodi Sundowns, Manqoba Mngqithi, wil hê plaaslike oordragsyfers moet openbaar gemaak word. Dit volg na die onlangse onthulling dat Sundowns se Brasiliaanse invoerproduk, Arthur Sales, teen ‘n rekord van 62-miljoen-rand aangeskaf is. Die aangeleentheid was nog altyd ʼn geheim, maar volgens Mngqithi sal die bekendmaking van oordragsyfers bydra om te bewys sekere klubs betaal beroepspelers te min. Sundowns speel môre in die Lucas Moripe-stadion teen Mbabane Swallows in die tweede been van hulle kragmeting in die tweede been van die voorlopige ronde van die CAF Kampioeneliga.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-57-sent teen die dollar, 19-rand-59-sent teen die euro en 23-rand-33-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-579-dollar-97-sent. Die prys van goud is twee-duisend-612-dollar-11-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 74-dollar-44-sent per vat.
# Ten slotte: ‘n Tienermeisie en haar manlike metgesel het ‘n leë moltrein in die stad New York vir ‘n uitstappie ‘geleen’, ‘n botsing veroorsaak en toe die hasepad gekies. Foto’s wat deur die polisie vrygestel is, wys iemand in pienk klere, kompleet met ‘n pienk stortpet, en nog ‘n persoon in ‘n blou tenktop. Hulle het net ná middernag op 12 September op die leë trein by ‘n stasie in Queens geklim en dit op een of ander manier aan die gang gekry. Hulle het toe van agter in ‘n ander geparkeerde trein gebots.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….