Nuus 15:00
BULLETIN 18 September 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# BUSA is bemoedig deur die regering se openhartigheid oor die NGV-wet
# Minister Schreiber kondig die hersiening van burgerskap- en immigrasiewette aan
# En, fietsryers samel 350-duisend-rand in vir pediatriese operasies in die Oos-Kaap
# Business Unity SA se leierskap sê hy is bemoedig deur die regering se openhartigheid om betrokke te raak by die wesenlike bekommernisse wat ondernemings geopper het oor die Wet op Nasionale Gesondheidsversekering. Die uitvoerende hoof van BUSA, Cas Coovadia, sê op versoek van president Cyril Ramaphosa sal hulle ‘n aanbeveling voorberei wat oplossings uiteensit om die bekommernisse aan te spreek as die basis vir verdere gesprekke met die regering. Hy sê BUSA se hoofdoelwit is om die NGV-wet werkbaar, bekostigbaar en maklik te maak om in te stel:
# Die minister van Binnelandse Sake, Leon Schreiber, sê ‘n finale Witskrif oor Burgerskap, Immigrasie en Vlugtelingbeskerming sal ooreenstem met die regering van nasionale eenheid se doelwitte. Schreiber het die Parlement se Portefeuljekomitee oor Binnelandse Sake toegespreek en beklemtoon hoe noodsaaklik noukeurige oorweging is voordat die witskrif teen 2027 aangebied word. Hy sê die hervormings het ten doel om die immigrasiestelsel te hersien en kwessies in die Wet op Vlugtelinge aan te spreek sodat oortredings kan verminder:
# Die IVP in KwaZulu-Natal betreur die heengaan van die party se provinsiale tesourier, Musawenkosi Mkhwanazi. Ntandoyenkosi Shabalala van die party sê Mkhwanazi is vanoggend vroeg in die hospitaal ná ‘n siekbed oorlede. Hy was ‘n voormalige burgemeester van die Inkosi Mtubatuba-munisipaliteit en het ten tyde van sy afsterwe op die party se provinsiale uitvoerende komitee as tesourier gedien. Shabalala sê Mkhwanazi was ‘n betroubare en vertroude steunpilaar vir wyle Zoeloekoning Zwelithini kaBhekuzulu en wyle Zoeloe-premier, Mangosuthu Buthelezi.
# Gholf: Die driemalige major-wenner Jordan Spieth sê hy verwag om vroeg volgende jaar na die PGA-toer terug te keer nadat hy ‘n operasie aan sy gewrig moes ondergaan. Die 31-jarige ondervind sedert Mei verlede jaar probleme met sy gewrig toe hy hy ‘n besering opgedoen het terwyl hy met sy seun gespeel het. Hy wou aanvanklik nie laat opereer nie, maar liewer rus sodat dit self herstel. Die Amerikaner is uiteindelik verlede maand geopereer. Spieth sê hy herstel goed:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-57-sent teen die dollar, 19-rand-55-sent teen die euro en 23-rand-26-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 59-duisend-957-dollar-43-sent. Die prys van goud is twee-duisend-577-dollar-26-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 72-dollar-78-sent per vat.
# En, die Grandads Army het meer as 350-duisend-rand ingesamel om die Eyabantwana For The Children Trust te ondersteun. Die trust wil operasies vir kinders van reg oor die Oos-Kaap ondersteun omdat baie oor groot afstande moet reis om toegang tot behandeling te kry. Bydraes sal tot voordeel wees van jong pasiënte by die Frere en Cecilia Makiwane Hospitale. Die tiende Grandads Army-gedenkrit vind volgende jaar in Maart plaas en die doel is om 500-duisend-rand in te samel.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….