Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 13 September 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê die nuwe onderwyswet het ten doel om langdurige uitdagings op te los
# ActionSA is besorg oor die BELA-ondertekening
# En, rugby: Rugby Australië verwerp bewerings die Wallabies sal nie goeie teenstanders wees vir die Leeus nie
# President Cyril Ramaphosa sê die Wysigingswet op Basiese Onderwyswette, wat vandag onderteken is, het ten doel om langdurige uitdagings in die onderwysstelsel op te los. Belangrike kenmerke sluit in om graad R verpligtend te maak, die verbetering van skool-inklusiwiteit, die versterking van die verbod op lyfstraf, en die afdwing van strenger tuisonderrigregulasies. Ramaphosa sê die nuwe BELA wet het ten doel om toegang, gelykheid en gehalte in onderwys te verbeter terwyl dit belyn word met die Handves van Menseregte:
ActionSA het intussen sy besorgdheid uitgespreek oor die ondertekening. Die party kritiseer die wysigingswet omdat dit nie kwessies in die onderwysstelsel aanspreek nie. Woordvoerder Lerato Ngobeni sê die party heroorweeg sy opsies en het onderneem om deur middel van die portefeuljekomitee oor Basiese Onderwys op sy hoede te bly om die regte van ouers, onderwysers en leerders te beskerm:
# Die DA het sy steun verklaar vir die Suid-Afrikaanse Reserwebank se onafhanklikheid, en is gekant teen die EFF se Wysigingswetsontwerp oor die Reserwebank. Die DA se adjunkwoordvoerder vir finansies, Andrew Bateman, waarsku die wetsontwerp sal die minister van Finansies beheer gee oor sleutelaanstellings, wat ekonomiese bestendigheid in gevaar stel. Hy voer aan politieke inmenging kan beleggersvertroue benadeel, die rand waarde laat verloor en groei belemmer, en noem die wetsontwerp ongrondwetlik en onnodig:
# Die Russiese president, Vladimir Putin, het gewaarsku indien die Weste vir Oekraïne toelaat om wapens met ‘n langer reikafstand te gebruik om teikens binne sy land te tref, sal dit die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie in ‘n oorlog teen Rusland laat beland. Die Moscow Times berig Putin het reageer nadat die Amerikaanse minister van Buitelandse Sake, Antony Blinken, beloof het Washington sal Kiev se herhaalde versoek oorweeg om wapens wat die Weste voorsien, binne Rusland te gebruik.
# Rugby: Die Australiese beheerliggaam verwerp bewerings die Wallabies sal gedurende volgende jaar se toer van die Britse en Ierse Leeus nie goeie teenstanders wees nie. Dit volg na Australië se vernederende nederlaag in die Rugbykampioenskap van 27-67 verlede naweek teen die Pumas in Argentinië. Voormalige Engelse ster, Ben Youngs, sê die Leeus behoort eintlik weer in Suid-Afrika te toer. Die uitvoerende hoof van Rugby Australië, Phil Waugh, sê die Wallabies se grootste pak slae in hulle geskiedenis van 125-jaar verskuil die verbeterings wat reeds bereik is onder nuwe afrigter, Joe Schmidt.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-78-sent teen die dollar, 19-rand-72-sent teen die euro en 23-rand-34-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 58-duisend-112-dollar-38-sent. Die prys van goud is twee-duisend-567-dollar-75-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 72-dollar-62-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….