Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 12 September 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Inkomstediens verwerk 4,1-miljard-rand se aansoeke vir tweepot-onttrekings
# Die baasbrein agter Taliep Petersen se moord, Najwa Dirk, kry parool
# En, motorsport: Adrian Newey sê hy het verskeie aanbiedings oorweeg maar besluit om by Aston Martin aan te sluit
# Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens het 161-duisend-607 aansoeke vir belastingaanwysings vir die tweepot-aftreestelsel ontvang. Dit behels altesaam 4,1-miljard-rand. Die kommissaris van die diens, Edward Kieswetter verduidelik pensioenbydraes word tydens onttrekking belas teen die individu se marginale koers. Fonds-administrateurs sal na verwagting belastingaanwysings indien met eFiling, wat bepaal hoeveel belasting teruggehou moet word. As die belastingbetaler die diens geld skuld, word dit by die belasting op die onttrekking gevoeg, behalwe as ‘n betalingsooreenkoms aangegaan is. Uitgestelde belastingskuld word ook nie onmiddellik afgetrek nie.
# Najwa Dirk, wat skuldig bevind is aan die moord op haar man, die musiek-ikoon Taliep Petersen, in 2006, is na 18-jaar parool toegestaan. Haar vrylating, onder streng paroolvoorwaardes, kan appelleer word deur Petersen se familie. Dirk se parool volg op uitvoerige beoordeling van haar geestes- en emosionele toestand. ‘n Gemeenskaps-imbizo in Athlone, Kaapstad, sal na verwagting haar parool bespreek. Dirk is steeds in die Pollsmoor-gevangenis in die stad, met die Departement van Korrektiewe Dienste wat nog amptelik die besluit moet bevestig.
# Godfrey Lebeya sê die Valke gaan voort om van dwelms op straat ontslae te raak. Hy sê dwelms vernietig gesinne en veral jongmense wat die land se toekomstige leiers is. Die hoof van die Valke het tydens ‘n gesamentlike nuuskonferensie oor landwye operasies die afgelope maand gepraat. Hy sê die Valke het hierdie week tydens ‘n operasie in Port Alfred in die Oos-Kaap beslag gelê op dagga en daggaverwante produkte ter waarde van 30-miljoen-rand:
# Gauteng het die hoogste koers van persoonlike eiendomsdiefstal in Suid-Afrika aangeteken gedurende die 2023/’24-boekjaar. Volgens Statistieke Suid-Afrika se Slagoffers van Misdaad-opname, wat aan die Parlement voorgelê is, is Gauteng se diefstalsyfer byna drie keer hoër as Limpopo s’n. Misdade sluit in huisbraak, kaping, aanranding en seksuele misdrywe. Ses-en-veertig persent van die slagoffers het hulle oortreders geken, met baie misdade wat deur vriende, familielede of minnaars gepleeg is. Slegs 34,7 persent van slagoffers van seksuele misdrywe het berading gekry.
# Motorsport: Die beroemde Formule Een-ontwerper, Adrian Newey, sê verskeie spanne het hom genader voor hy besluit het om by Aston Martin aan te sluit. Die 65-jarige Britse ingenieur word beskou as die beste ontwerper in die geskiedenis van die sport. Hy het Red Bull na 19 baie suksesvolle jare verlaat en sê hy is gereed vir die volgende hoofstuk:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-99-sent teen die dollar, 19-rand-82-sent teen die euro en 23-rand-47-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 58-duisend-en-1-dollar-34-sent. Die prys van goud is twee-duisend-515-dollar-18-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 71-dollar-75-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….