Nuus 15:00
BULLETIN 7 Augustus 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die minister van Openbare Werke lê strafregtelike klagtes oor die Ontwikkelingstrust-omkoopskandaal
# Ramaphosa en Trump verbind hulle tot voortgesette bilaterale handelsooreenkomste
# En brandbestryders swoeg om Frankryk se grootste veldbrand in byna agt dekades te bestry
# Die minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Dean Macpherson, het ‘n strafregtelike klagte ingedien teen die geskorste uitvoerende hoof van die Onafhanklike Ontwikkelingstrust, Tebogo Malaka, en die woordvoerder, Phasha Makgolane, in die Kaapstad Sentraal-polisiestasie. Dit volg nadat ‘n beweerde poging op video gewys het hoe probeer word om ‘n joernalis met 60-duisend-rand om te koop om ‘n ondersoek na korrupsie gekoppel aan ‘n tender van 800-miljoen-rand te staak. Macpherson sê die omkoop-poging is ‘n aanval op mediavryheid:
Die trust se raad gaan intussen vergader oor die omkoop-bewerings deur die ondersoekende joernalis van Daily Maverick, Pieter-Louis Myburgh. Malaka is reeds geskors oor die omstrede suurstofaanleg-tender. Die raad sê hy bly verbonde aan deursigtigheid en sal ‘n volledige antwoord uitreik na sy ondersoek.
# President Cyril Ramaphosa en sy Amerikaanse ampsgenoot, Donald Trump, het hulle verbind tot voortgesette bilaterale handelsooreenkomste. Dit volg op ‘n telefoongesprek waarin die twee leiers belangrike ekonomiese sake bespreek het, insluitend die nuwe Amerikaanse tariewe van 30-persent op sekere Suid-Afrikaanse uitvoere wat om middernag van krag word. Die woordvoerder in die Presidensie, Vincent Magwenya, sê die regering poog om Suid-Afrika se handelsbelange te beskerm namate wêreldwye ekonomiese druk toeneem:
# Brandbestryders worstel ‘n derde agtereenvolgende dag om Frankryk se grootste veldbrand in byna agt dekades te bestry nadat meer as 16-duisend hektaar reeds verbrand het en een mens dood en talle huise verwoes is. Reuters berig rookwolke hang oor die beboste gebied in die Aude gebied in die suide. Plaaslike owerhede sê behalwe die een slagoffer, word drie vermis en twee mense, insluitend ‘n brandbestryder, is in ‘n bedenklike toestand. Die brand, ongeveer 100-kilometer van die grens met Spanje en nie ver van die Middellandse See nie, het Dinsdag uitgebreek en vinnig versprei.
# Gholf: Die tweemalige major-kampioen, Jon Rahm van Spanje, sê meer moet gedoen word om ander geleenthede te vind vir spelers om wêreldranglys-punte te bekom. LIV Gholf het in Junie weereens aansoek gedoen vir wêreldranglyspunte nadat dit in Oktober 2023 afgekeur is – onder meer omdat daar nie afsnypunte in LIV-toernooie is nie en ‘n beperkte aantal spelers kan deelneem. Die wêreldranglys is een van die hoofroetes vir spelers om vir majors te kwalifiseer. Rahm sê positiewe gesprekke vind wel plaas:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-72-sent teen die dollar, 20-rand-69-sent teen die euro en 23-rand-78-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 116-duisend-704-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-380-dollar-33-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 66-dollar-98-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….