Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 9 September 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC beplan om ‘n meerderheid te verkry in die komende verkiesing
# #PayTheGrants eis die Posbank moet gesteelde fondse teruggegee word aan Sassa-bevoordeeldes
# En, rugby: ‘n Voormalige Bok-vleuel se internasionale loopbaan is waarskynlik verby na ‘n skorsing van drie-jaar
# Die ANC werk aan die konsolidering van verslae van verskeie plaaslike regeringstrukture om uitdagings te pak en ‘n strategie te ontwerp vir die komende verkiesing. Die nasionale werkskomitee van die party skakel met lede op voetsoolvlak by die Birchwood-hotel in Ekurhuleni, om die kwessies op grondvlak te begryp en sy verkiesingstrategie te versterk. Die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, het aan die media gesê die doel is om ‘n meerderheid te behou deur sleutelkwessies aan te pak en koördinering met plaaslike strukture te verbeter:
# Die burgerlike organisasie #PayTheGrants eis die geld wat gesteel is van ontvangers van Maatskaplike Noodverligtingstoelaes moet terugbetaal word aan die regmatige eienaars. ‘n Forensiese verslag van KPMG het onthul ‘n misdaadsindikaat het swak IT-beheer by die Posbank uitgebuit en tussen Oktober 2021 en Oktober 2022 meer as 100-miljoen-rand in vyf groot voorvalle gesteel. General Moyo van die organisasie het aan die SABC gesê die diewe moet aanspreeklik gehou word:
# Cosatu sê hy steun ten volle die vakbond Saccawu se hofsaak teen die afdanking van byna 600 werkers by Massmart, wat deur Walmart besit word. Die werkers is afgedank nadat hulle aan ‘n staking deelgeneem het. Beraadslagings met die bestuur om die afgedankte werkers by Massmart se Makro-afdeling weer aangestel te kry, was onsuksesvol. Cosatu sê die maatskappy het dit nog erger gemaak deur die finansiële toestand van die Massmart-groep in geheel as regverdiging te gebruik hoekom hy nie aan Makro-werknemers ‘n verhoging kan gee nie.
# Rugby: Die voormalige Springbok-vleuel, Sbu Nkosi, se internasionale loopbaan is waarskynlik verby nadat hy vir drie jaar geskors is omdat hy vroeër vanjaar positief getoets het vir die gebruik van ‘n verbode middel. Hy was lid van die triomfantelike Wêreldbekergroep in 2019. Die 28-jarige Nkosi het sy buiging vir Suid-Afrika in 2018 gemaak en tot 2021 in 16 toetse gespeel. Hy het vir die Bulle en die Haaie gespeel en vroeër vanjaar by die Cheetahs aangesluit. Nkosi se monsters het glo spore van ʼn anaboliese opkikker bevat wat veral deur liggaamsbouers gebruik word.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-77-sent teen die dollar, 19-rand-90-sent teen die euro en 23-rand-43-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 55-duisend-219-dollar-75-sent. Die prys van goud is twee-duisend-495-dollar-40-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 71-dollar-64-sent per vat.
# En ten slotte: Die afstammelinge van die ontwerper van die Eiffeltoring gaan veg om te keer dat die Olimpiese ringe aan die toring gehou word, soos beplan deur Parys se burgemeester. Die familie van die legendariese ingenieur Gustave Eiffel is gekant teen enige verandering wat ‘n negatiewe uitwerking het op die werk van hulle voorvader, en het reeds ‘n regsmening ingewin om die verandering te verhoed. Burgemeester Anne Hidalgo beplan om die reusagtige veelkleurige ringe te hou to minstens 2028, wanneer die volgende Spele in Los Angeles gehou word.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….