Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 5 September 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Kabinet skerp die stryd op teen misdaad en korrupsie
# Die DA vra die Nasionale Vergadering moet die aanstelling van regterlike dienskommissie-verteenwoordigers heroorweeg
# En, krieket: Pakistan is in sy swakste toetsranglysposisie sedert 1965 nadat hy teen Bangladesj verloor
# Die kabinet het sy stryd teen misdaad en korrupsie opgeskerp met ‘n beleid van geen verdraagsaamheid. Onlangse pogings sluit in polisie-optrede gerig op ernstige midaad en ‘n omvatttende regeringsbenadering tot openbare veiligheid. Die waarnemende minister in die Presidensie, Maropene Ramokgopa, het aan die media gesê onder die noemenswaardige suksesse is die inhegtenisneming van verdagtes, bewaringsbevele vir fondse wat gebuit is, en die uitlewering van die Britse burger Michael Lomas vir Eskom-verwante korrupsie:
# Die DA se regsverteenwoordiger het die Nasionale Vergadering aangemoedig om die aanstelling van verteenwoordigers op die regterlike dienskommissie te heroorweeg. Dit volg op die aanstelling van die eerste Suid-Afrikaanse regter om afgedank te word, John Hlophe, as ‘n lid van die kommissie. Advokaat Ismail Jamie betoog ‘n regter wat ontslaan is kan nie regters kies of sake van die kommissie hanteer nie weens ‘n belangebotsing:
# Die Olimpiese atleet Rebecca Cheptegei is dood dae nadat ‘n voormalige kêrel petrol oor haar uitgegooi en haar aan die brand gesteek het. Die 33-jarige Ugandese marathonatleet het in Parys aan die Spele deelgeneem. Die owerhede in die noordweste van Kenia, waar Cheptegei gewoon en geoefen het, sê sy is geteiken toe sy van die kerk by die huis aangekom het. Sy en haar eks-vriend het skynbaar gestry oor ‘n stuk grond. Daar is kommer oor toenemende geweld teen vroue-atlete in Kenia. Cheptegei is die derde wat sedert Oktober 2021 dood is.
# Krieket: Pakistan het teruggesak tot sy swakste posisie op die toetsranglys in byna ses dekades na hulle skok-reeksnederlaag teen die onbesonge Bangladesj. Bangladesj het die tuisspan met ses paaltjies verslaan in die tweede toets in Rawalpindi vir sy eerste reeksoorwinning oor Pakistan. Pakistan het twee plekke teruggesak, van sesde na agtste. Die Internasionale Krieketraad sê dit is hulle laagste posisie sedert 1965 op die ranglys van twaalf spanne. Dit word gelei deur Australië, gevolg deur Indië en Engeland, met Suid-Afrika vierde. Bangladesj is negende op die jongste ranglys.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-79-sent teen die dollar, 19-rand-75-sent teen die euro en 23-rand-43-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 56-duisend-709-dollar-75-sent. Die prys van goud is twee-duisend-516-dollar-9-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 73-dollar-12-sent per vat.
# En ten slotte: Todd Phillips se musiekfliek-opvolg, Joker: Folie à Deux, met Lady Gaga en Joaquin Phoenix in die hoofrolle, het groot lof ontvang op die Venesiese Rolprentfees en is selfs vir elf minute lank staande toegejuig. Dis die opvolg op Phillips se 2019-fliek, Joker, wat elf Oscar-benoemings ontvang het. Phoenix het toe die beeldjie vir beste akteur ontvang en Hildur Guðnadóttir vir die oorspronklike agtergrondmusiek. Dit was ook die fliek wat daardie jaar die sesde meeste geld gemaak het. Joker: Folie à Deux word op 4 Oktober in teaters vrygestel.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….