Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 3 September 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Suid-Afrikaanse ekonomie groei met 0,4-persent in die tweede kwartaal
# Die minister van Justisie verskyn voor ‘n parlementêre komitee oor die VBS-bewerings
# En, tennis: ‘n Speler van Kazakstan vra ‘n baljoggie op die Amerikaanse Ope om verskoning na ‘n ongemaklike voorval
# Die Suid-Afrikaanse ekonomie het in die tweede kwartaal met 0,4-persent gegroei, na geen groei in die eerste kwartaal nie. Die finansies-, eiendom- en sakedienstebedrywe het met 1,3-persent gegroei, gevolg deur die handel-, gasvryheids- en verblyf-sektore wat groei van 1,2-persent getoon het. Die vervaardigingsbedryf het met 1,1-persent verbeter, en die krag-, gas- en waterbedrywe met 3,1-persent. Dit was grootliks te danke aan ‘n styging in kragverskaffing en -verbruik, asook waterverbruik. Die vervoer-, bergings- en kommunikasiebedrywe asook landbou, bosbou en visserye het met meer as 2-persent gedaal.
# Die minister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Thembi Simelane, sal na verwagting Vrydag voor die parlementêre portefeuljekomitee oor Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling verskyn. Dit volg op bewerings dat sy tydens haar termyn as burgemeester van Polokwane in Limpopo 500-duisend-rand as ‘n lening ontvang het van ʼn persoon met noue bande met die VBS-bank. Die komitee se voorsitter, Xola Nqola, sê hierdie soort bewerings is skadelik vir die beeld wat Suid-Afrika wil voorhou as ʼn land wat homself probeer bevry van enige vorm van korrupsie.
# Die Pretoriase Spesiale Handelsmisdaadhof het ‘n 37-jarige voormalige finansiële bestuurder van ‘n sportklub tronkstraf van tien jaar opgelê op 63 aanklagte van bedrog wat gelei het tot verliese van meer as drie-miljoen-rand. Prishne Khan het die Noordelike Krieketunie van Junie 2015 tot Januarie 2017 bedrieg waar sy as ‘n boekhouer gewerk het. Die Nasionale Vervolgingsgesag se streekwoordvoerder, Lumka Mahanjana, sê Khan se verantwoordelikhede het die verwerking van betalings vir diensverskaffers ingesluit:
# Die DA Abroad beywer hom vir ʼn outomatiese en kostelose herinstelling van Suid-Afrikaanse burgerskap. Dit volg na ʼn uitspraak van die Appèlhof wat bevestig Suid-Afrikaners wat hulle burgerskap verloor het omdat hulle ʼn ander nasionaliteit bekom het, moet dit behou. Die party wil ook duidelikheid hê oor vertragings en hoeveel landsburgers geraak word. ‘n Woordvoerder van die DA, Ludrè Stevens, vra ʼn spoedige bekragtiging van hierdie uitspraak deur die Konstitusionele Hof:
# Tennis: Yulia Putintseva van Kazakstan het om verskoning gevra aan ‘n baljoggie op die Amerikaanse Ope na ʼn ongemaklike voorval tydens haar nederlaag teen die Italianer Jasmine Paolini in die derde ronde. Sy het drie balle van die meisie ignoreer voor haar volgende afslaan en die skare het haar uitgejou. Putintseva verduidelik sy was gefrustreerd omdat sy in die tweede stel twee breekpunte verbeur het. Volgens haar was dit nie oor die meisie nie maar was sy nie gefokus op wat aangaan nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-97-sent teen die dollar, 19-rand-83-sent teen die euro en 23-rand-57-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 59-duisend-32-dollar-93-sent. Die prys van goud is twee-duisend-499-dollar-15-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 75-dollar-53-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….